Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Jare terug het ek in ‘n groepstudie vir ‘n paar tannies gesê dat as jy my in die motor sien en ek is besig om te sing, dan is ek tien teen een besig om my bui te verander. Dan sing ek lofliedere tot God tot ek beter voel. Ek weet ek kan nie sing nie. Die orkes het dit al vir my gesê en voor hulle was my musikale kinders netso duidelik: Pa, jy moet liewers nie hardop sing nie. Maar in die motor, en op die motorfiets, want niemand kan in my valhelm hoor nie, en op plekke waar niemand my kan hoor nie, sing ek, en ek sing meestal lofliedere. My broer kan soos ek nou nie ‘n opera se rolverdeling maak agv ons sang nie. Hy sê altyd dat die Bybel sê “make a joyful noise unnto the Lord” en dis wat hy doen. Hy maak joyfully a noise unto the Lord. Iemand wat aan erge engtefees ly vertel my hoe sy verlede Woensdag in ‘n MRI scan in haar gedagtes oor en oor gesing het “Die Here is my Herder” en hoe rustig die Here haar daar in die engtes van die tonnel gehou het. Daar is kere wat ek skuldbelydenisse sing. Dis dae wat ek oorweldig voel oor my eie swakhede en verkeerdhede. Maar meestal sing ek lofsange. Lofsange want God is in die eerste plek netso groot en aangrypend dat menslike woorde nie reg kan laat geskied aan Wie Hy is nie. Maar dit gaan my nie keer om my verwondering uit te spreek nie. ‘n Verwondering oor alles wat Hy doen en gee. ‘n Verwondering oor Wie Hy is en oor Sy liefde vir ons en hoe Hy ons help en dra al kla ons net heeldag. Lofsange verander ‘n mens se bui. Lofsange maak ‘n mens meer positief en meer hoopvol. Dit skuif jou van kla, of weeklag na lof aan God en dankbaarheid jeens God. Want jy begin aanvoel hoe klein jou krisisse is in die lig van God. En ons sing want dit hou ons gedagtes by God en weg van die verkeerde af. Ek sien dit baie by Dawid. Hy, van baie psalms geskryf, hy wat dus baie liedere aan God geskryf het. Byvoorbeeld in Psalm 138: 1 Van Dawid. Ek wil U met my hele hart loof. Laat die gode maar hoor; dit is tot u eer dat ek sing. 2 Ek wil na u heilige tempel toe buig en u Naam roem om u liefde en trou, want U het u Naam en u woord bo alles gestel. 3 Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor en my nuwe krag gegee. En so entjie verder in psalm 138 leer ek om hoopvol te bly. 8 Die Here sal vir my alles goed laat afloop. Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie. Moet tog nie die werk van u hande laat vaar nie. Maar ons lof aan die Here nooit stil word nie. Al kan ons dalk nie sing nie, laat dit dan lofgebede wees. Maar laat ons jubel en juig oor die Almagtige. Dankbaarheid en jubeling is ‘n baie beter bui as knorrig of seergemaak of benoud. En lofsange is lekkerder saam met baie ander.