Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore aan u elkeen. Dis weer Dirk wat met u gesels vanoggend. Ons is steeds vanoggend by Aaron en Mirjam wat teen Moses in opstand gekom het. Ons lees in Num 12:5-14 hoe dat God hulle tereg wys oor die wyse waarop hulle met Moses gepraat het. En dan onttrek God Homself van hulle. Toe Aaron sien dat Mirjam melaats is en dat God se straf op haar gekom het, het hy onmiddelik berou oor sy sonde. Tydens die voorval met die goue kalf sal u onthou het Aaron die volk probeer blameer vir sy eie optrede. Maar hier, nadat hulle deur God self gekonfronteer is, het hy onmiddelik berou oor sy optrede. Hy pleit by Moses om haar gesond te maak waarna Moses tot God bid hiervoor. Mirjam word egter steeds gestraf en moes vir 7 dae buite die kamp gaan woon asof sy steeds melaats was. En hier kom die wonderlike gedeelte van die hele verhaal. Vers 15 se die volgende: “Hulle het Mirjam toe sewe dae lank uit die kamp uitgesluit, en die volk het nie verder getrek voordat sy teruggekom het nie”. Hou in gedagte dat daar deur sommige kenners gereken word dat daar op daardie stadium oor ‘n miljoen Israeliete was wat getrek het. En almal van hulle het gewag dat Mirjam haar straf uitdien alvorens hulle besluit om verder te trek. Daar kan verskeie redes hiervoor wees. Sy was darem ‘n profetes en het die Israeliete gelei saam met Moses en Aaron. Sonder twyfel sou Israel baie respek vir haar gehad het. Dit kan ook wees dat Israel gewag het dat die wolk waardeur God hulle gelei het weer teruggekom het in die kamp om hulle verder te lei. Vers 10 se vir ons dat die wolk van die tent af opgetrek het en dis moontlik dat God hulle niks verder gelei het deur die wolk nie. Hoe dit ookal sy, een ding kom duidelik na vore in vers 15. Dat Israel wag vir Mirjam om haar straf uit te dien sodat hulle haar kan vergewe, terug ontvang in die gemeenskap van Israel en weer met aanvaarding aan Mirjam se leiding onderwerp kan word. Ons lees nie dat iemand haar veroordeel nie. Niemand kla haar aan by Moses dat sy nie meer geskik is vir haar pos nie. Daar is bloot vergifnis en aanvaarding by Israel. Geen veroordeling nie. Hoe baie kan ons nie by Israel leer nie? Hoe vinnig is ons nie altyd om te oordeel, kritiseer en soms sommer lekker te kry nie? Ook binne die kerk geniet mense dit soms om so op te tree. Dis uiters hartseer. Miskien moet ons die vraag vanoggend vra: Wie dink ons is ons sodanig dat ons onsself hierdie reg toeeien om so teenoor mense op te tree? As God mense nie veroordeel nie, wie dink ons is ons om dit te doen? EK dink die lesse wat ons die laaste drie oggende vanuit Num 12 geleer het se een ding: Die verskil begin by ons. By my! God verwag van elkeen van ons om meer en meer aan die beeld van Christus gelyk te word. En die eerste plek waar dit moet gebeur is in sy huis. In die kerk. Tussen gelowiges. Want hoe gaan ons ongelowiges nader aan God kan trek as ons nie eens met mekaar oor die weg kan kom nie. Die wereld lag vir ons as ons so teenoor mekaar optree. Kom ons stel die voorbeeld deur met Goddelike vergifnis, genade en aanvaarding op te tree teenoor hulle wat verkeerd doen, of hulle wat ons DINK verkeerd doen. Dit kan dalk die enigste wyse wees waarop ons mense weer kan laat terugverlang na die samekomste van gelowiges op ‘n Sondagoggend. Here, help my om sonder verwyte en kritiek teenoor ander te leef. Om nie hulle foute nie, maar eerder hul potensiaal raak te sien. In Jesus naam. AMEN