Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore. Dis weer Dirk wat met u gesels vanoggend en baie dankie vir die geleentheid. Ek lees onlangs van ‘n Amerikaanse studie waarin bevind is dat mediese kennis in 1950 elke vyftig jaar verdubbel. In 1980 het dit versnel na elke tien jaar. Teen 2010 het dit drie en ’n halwe jaar geneem vir mediese kennis om te verdubbel, maar nou sal dit blykbaar elke 73 dae gebeur. Kennis vermeerder teen ‘n geweldige snelheid. Iemand vertel onlangs vir my dat wanneer jy ‘n rekenaar met die nuutste tegnologie sou koop en by die winkel uitstap, dan is dit reeds verouderd. En teen ‘n al hoe meer intensiewer snelheid jaag mense nog meer kennis na. Maar ongelukkig groei wysheid nie so vinnig soos kennis nie. Inteendeel. Ons weet meer en meer van alles, maar die dinge wat werklik saakmaak, soos reg leef en die regte dinge doen, die weet ons nie veel van nie. Inteendeel, dis die slegte dinge waaroor ons elke dag in die koerante lees en op die nuus hoor. Selfsug, haat en al die derglike dinge oorspoel die wêreld. Wysheid is weg. En die hartseer hiervan is dat dit hierdie wysheid is wat God gese het ons moet najaag. Die Psalmdigter skryf in Psalm 111 dat “Wysheid begin met die dien van die Here”. Salomo gebruik dieselfde woorde om die waarde van wysheid te beskryf in Spreuke 9. En Job stel dit so mooi in hfst 28:28 met die volgende woorde: “Om die Here te dien, dit is wysheid, om die kwaad te vermy, dit is insig.” Ons het altyd ons kinders probeer leer dat kennis is om baie te weet, maar wysheid is om altyd die regte keuses te maak. En die Bybel is dit eens dat kennis goed is. Maar wysheid, ‘n ware wyse persoon, word gedryf om die Here te dien en die kwaad te vermy. En luister gerus maar rond. Dis nie noodwendig die slimmes en geleerdes wat wys is nie. Inteendeel! Maar die Psalmdigter, Job asook Salomo het een belangrike punt beetgehad. Dat wysheid word nie in boeke gevind nie. Nie aan ‘n Universiteit nie. Nie eens in die kerk nie. Nee, wysheid word gevind waar mense die Here opreg dien, waar God se belange bo enigiets anders gestel word. Of dit in die huisgesin is, of in die skool, of selfs tussen ‘n groep boemelaars op straat. Waar mense God dien, daar begin wysheid. En ja, dit kan ook op Universiteit en baie beslis in die kerk gebeur. Maar God stel geen voorwaardes vir tyd, plek en kwalifikasies nie. Al wat Hy vra vir ons om as wyse mense gereken te word, is om Hom opreg te dien. Ek ken mense wat tot op ‘n hoe ouderdom steeds bly leer en studeer. Dag in en dag uit. En per slot van sake is daar niks mee fout nie. Maar het u al ooit gedink wat die gevolge sou wees indien ons soveel tyd insit om in wysheid te groei, in ons verhouding met God? Kom ons kies om wyse mense te wees, in plaas van slim en geleerd. God het self op ‘n stadium gese dat Hy sekere dinge vir slim en geleerdes verberg. Here, leer elkeen van ons om wysheid aan die dag te le. Om in elke situasie te soek na U wil en wat U van ons vra. In Jesus Naam.