Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore. Dirk aan hierdie kant. Voordat paartjies gewoonlik trou moet hulle ‘n huwelikskontrak opstel. Een van die wyses waarop hulle so ‘n kontrak kan opstel is op huweliksvoorwaardes. Dit bepaal bloot dat sekere ooreenkomste aangegaan word wat bindend is op die huwelik. Hulle kom dalk ooreen dat elkeen se besittings hul eie is en dat hulle beide ewe veel reg het op alle besittings wat aangekoop word tydens hul huwelik. Maar die kern woord hier is voorwaardes. Sommige mense reken dat hul verhouding met God ook so werk. Ek kan vir God bepaalde voorwaardes stel as Hy dan van sy kant af sekere dinge vir my sal doen. Ek en God gaan ‘n ooreenkoms aan soos ‘n bruid en bruidegom. Maar ons kan nie Christene wees op ons voorwaardes nie. Dis kulturele Christenskap. Net ‘n tradisie. ‘n Namaaksel van die egte. Bybelse Christenskap is om ‘n gelowige te wees op God se voorwaardes en niks anders nie. Ek kan nie so nou en dan ‘n persoonlike vereiste ingooi in my verhouding met God nie. Ja, Paulus het gese ons moet ons begeertes aan God bekend maak deur gebed. Maar daardie voorreg veronderstel ‘n reeds bestaande, opregte bybelse Christenskap. Een wat nie vir God voorwaardes stel nie. En dan gebruik sulke gelowiges nogals die verhaal van Gideon in Rigters 6 om hulle voorwaardes en vereistes aan God te regverdig. U onthou mos die verhaal waar Gideon die vlieswol uitgegooi het en God gevra het om dit eers nat te maak en toe droog te laat. Maar hierdie verhaal het niks te doen daarmee om voorwaardes aan God te stel of ooreenkomste met Hom te maak asof Hy net ‘n vennoot in ‘n kontrak is nie. Gideon het nie vir God voorwaardes gestel nie. Hy het bloot bevestiging gesoek vir iets wat God reeds ‘n besluit oor geneem het. Miskien as ons onthou wie hierdie God is vir wie ons so maklik voorwaardes stel sal dit ons gedagtegang verander. Soos ‘n kleurling vriend van my altyd se: Hy’s nie jou tjommie van die straat af nie. Christus verwys na Homself as die enigste weg, waarheid en lewe in Joh 14. In hoofstuk 10 se Hy dat Hy en die Vader een is. In hoofstuk 14 se Hy dat wanneer ons Hom gesien het, het ons die Vader gesien. En in Johannes 8 se Hy dat as ons Hom ken sal ons ook die Vader ken. U sien, Hy is nie die Grootbaas daarbo soos baie na Hom verwys nie. Hy is nie ons vennoot in ‘n saketransaksie wanneer ek iets nodig het nie. HY IS GOD!!!! Die enigste, lewende, ware, alomteenwoordige, almagtige God. Skepper en onderhouer van alles. Redder, Verlosser, Middelaar, Saligmaker. Wanneer profete in die OT besef het hulle is in die teenwoordigheid van hierdie God het hulle op hul aangesig neergeval in bewondering voor Hom. Vir sommige gelowiges is Hy vandag ‘n God wat moet reageer op ons versoeke en met wie ons ooreenkomste aangaan. Doen U dit en ek sal die volgende doen. Maar God moet mos altyd eerste doen. Dan sal ek met my voorwaardes volg. Wanneer ons besef wie hierdie God van ons is, die Vader van ons Verlosser, sal ons ook in bewondering voor Hom leef. Sal ons respek en aanbidding teenoor Hom van so ‘n aard wees dat ons net tot sy eer sal leef, dat alles vir my oor Hom sal gaan en nie wat ek by Hom kan kry nie. Here, vergewe ons dat ons soms so teenoor U optree of so oor U dink dat u niks anders is as iemand wat net aan ons behoeftes moet voldoen nie. Help ons om U te sien vir die God wie u is. In Jesus Naam