Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore aan ieder en elk. Dirk wat met u gesels. Ek dink as daar een teksgedeelte in die evangelies is waaroor al baie gepreek is, is dit Matteus 18. Spesifiek Jesus se woorde in vers 21 tot 35. Dis die baie bekende gedeelte wat handel oor vergifnis. U onthou dit as die verhaal van die amptenaar wat die koning geld geskuld het. Hierdie was ‘n bedrag wat hy nooit souk on terugbetaal nie. Die Skrif se dis gelykstaande aan miljoene rande. Hy het gepleit en die koning het hom jammer gekry en sy skuld afgeskryf. So het die amptenaar ‘n medeamptenaar raakgeloop wat hom slegs ‘n paar rand geskuld het. Hy het hierdie medeamptenaar in die trunk laat gooi totdat hy die paar rand kan betaal. Ons weet goed wie is wie in hierdie verhaal. God is natuurlik die koning wat vir u en my skuld afgeskryf wat ons nooit in alle ewigheid sou kon afbetaal nie. Ons is natuurlik die amptenaar wie se skuld kwytgeskeld is. En die medeamptenaar in die verhaal wat slegs ‘n paar rand geskuld het is ons medegelowiges. Hierdie verhaal lyk heeltemal anders as ons begin name invoeg in die plek van titels. Skielik word dit meer persoonlik. En hierdie is nie bloot ‘n verhaal wat dalk sou afgespeel het in die strate van Palestina iewers nie. Nee, dit kon net sowel hier in Deneysville, of in die Vaaldriehoek of enige ander plek afgespeel het. Want ons ken dit so goed. Ons onthou mos die geweldige groot skuldlas wat Jesus aan die kruis vir ons tot niet gemaak het. Paulus stel dit so mooi in Kol 2:14 wanneer hy hierna verwys as ‘n skuldbewys met ‘n klomp eise wat Christus aan die kruis vasgespyker het. En ons ken dit en ons weet dit. Ons hoor die sondag na sondag. En ons glo dit en ons is geweldig dankbaar daarvoor. Maar die tweede deel van die verhaal in Matt 18 is die deel waarmee ons worstel. Hierdie amptenaar, u en ek, wat die volle bedrag wat hy nooit sou kon afbetaal het nie, vergewe is, weier om ‘n medeamptenaar, ‘n medegelowige, wat so min skuld dat hy wel in staat sou wees om dit af te betaal, te vergewe. En die hartseer van hierdie verhaal is dat ek myself elke keer herken wanneer ek dit lees. Die onvergewensgesinde amptenaar. Herken u uself? So baie vergifnis ontvang, maar nie eers bereid om ‘n bietjie te gee nie. Vers 35 van Matt 18 maak my elke keer benoud as ek dit lees. “So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer (of suster) van harte vergewe nie”. Let op, nie sommer net vergewe nie, maar VAN HARTE! Met ander woorde, met oorgawe, met passie, met die regte bedoelings, eerlik en opreg, sonder bybedoelings. Dis hoe ons vergifnis moet lyk, want dis die standard wat God gestel het. Dis die vergifnis wat ons moet uitleef teenoor hulle wat ons te na gekom het. Hoe ver skiet ons nie tekort nie? Die koning, wat in hierdie verhaal God verteenwoordig, was glad nie gelukkig met die amptenaar, u en ek, se onvergewensgesindheid nie. En hy is deeglik daarvoor gestraf. Hoeveel gaan ons onvergewensgesindheid ons dalk nog kos? Miskien moet ons maar net aan die standard voldoen wat Jesus aan die kruis gestel het. Dis God se vereiste. Niks minder nie. Here, hieraan is elkeen van ons skuldig, en ons bely dit Vader. Vergewe ons asb. Maar Here, help ons om ook so te kan vergewe. Tot U eer. In Jesus Naam.