Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Dis Dirk wat u groet vanoggend. U sal onthou ons het gister gesels oor vergifnis. Die terugvoer was oorweldigend en ek het besef dat dit nie net ek is wat soms daarmee worstel nie. Toe kom ek af op ‘n artikel wat die fisiese effek van vergifnis op die mens se liggaam ondersoek het en geweldige interessante ontdekkings gemaak het. Van die simptome wat in die verskillende studies uitgewys is wat verminder is deur bloot ander mense te vergewe, was die volgende: • As gevolg van die feit dat mens nie meer angstigheid en woede beleef nie is die eerste simptoom wat verdwyn hoe bloeddruk. • Psigiese stress word veroorsaak deur voortdurend te dink aan die omstandighede of persoon wat jy nie kan vergewe nie. Wanneer volkome vergifnis plaasvind verminder stresvlakke drasties. • Om saam te vat word die volgende toestande ook drasties verlaag in die liggaam wanneer ‘n persoon werklik besluit om totaal te vergewe: Hartklop verlaag Laer risiko van alkohol en dwelm gebruik Minder simptome van depressie en angstigheid Vermindering in kroniese pyn en ‘n verbeterde immunstelsel. Hoekom noem ek vanoggend hierdie dinge? Want ek dink nie mense sien of besef meer werklik hoe belangrik volkome vergifnis vir ons geestelike lewe en ons verhouding met God is nie. Ons besef nie altyd dat om volkome vry voor God te kan leef ons ook volkome vry teenoor ons naaste moet leef. Miskien kyk mense anders daarna as hulle sien watter voordele vergifnis vir hulself en hul gesondheid inhou. Want ons is mos van nature meer ingesteld op onsself en dit wat vir my van voordeel kan wees. Die ou Me, Myself and I beginsel. Christus se daad aan die kruis was een van vergifnis. Om vergifnis vir elkeen van ons voor God die Vader te verkry. As vergifnis vir Jesus so belangrik was dat Hy met sy lewe betaal het om dit vir ons te verkry, waarom is dit nie vir ons ook belangrik nie? Het ons so hoogdrawend geword dat ons dalk dink ons het nie meer hierdie vergifnis nodig nie? En as ons besef ons het dit nodig, waarom dit dan nie ook gee nie? Of miskien is dit maar elke keer net ons eie ego wat die oorhand kry. Vergewe mekaar soos God julle in Christus vergewe het se Paulus in Ef4:32. Dis die standaard. Ons kan dit nie verander, aanpas, verlaag of verdraai nie. En benewens die feit dat dit die wereld se voordele inhou vir ons verhouding met God en ons geestelike lewe, hou dit ook soveel voordele in vir ons fisiese gesondheid. Dit was en is nog steeds tot ons voordeel om bloot net te doen wat God van ons verwag. Vergewe daardie persoon of persone teenoor wie u vir so lank al daardie wrok ronddra. Iemand het eendag gese dat om nie te vergewe nie is soos om gif te drink en te hoop iemand anders gaan dood. Onvergewensgesindheid is stadige selfmoord. En indien die berg te groot voor u is, vra die Een wat die berge gemaak het om jou daartoe in staat te stel. Here, help ons elkeen om van harte te vergewe, in Jesus Naam.