Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore van my, Dirk en dankie vir die voorreg om vir so 3 minute saam met u te kuier. As daar een ding in die kerk is wat ons baie van hoor is dit voorbidding. Ons hoor elke sondag die name van die siekes van die kansel af en dan word gevra dat ons voorbidding sal doen vir genesing ens. Maar wat is voorbidding en hoe werk dit? Kom ons probeer ‘n antwoord kry. Die oomblik dat jy ‘n gelowige word, word jy deel van God se span. Deel van sy familie. En wanneer jy deel van God se familie word beteken dit dat die dinge wat vir God belangrik is word ook nou vir jou belangrik. En dit impliseer dat ons vir mekaar sal bid. Voorbidding doen. So, voorbidding is in die eerste plek dus vir medegelowiges. Die hart van voorbidding le daarin dat ons aan Jesus behoort, maar ook dat ons soos lede van ‘n rugbyspan van mekaar afhanklik is. Die Here het dit vir ons moontlik gemaak om mekaar te ondersteun en aan mekaar goddelike “geskenke” te stuur. Paulus stel dit soos volg in 2 Kor 1:10-11: “Dit is God wat ons uit groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie ‘n seen van God vir ons bring, en dan sal baie Hom dank.” Hoewel Paulus waarskynlik in Efese was het die gebede van die gelowiges in Korinte seenryke gawes by Paulus afgelewer. Dieselfde trant vind ons in Rom 15:30, Ef 6 en Kol 4. Die gelowiges in Korinte het nie maar net gebid nie. Nee, daar het iets gebeur. Hulle gebede het vir Paulus die sluise van seen van die hemel oopgemaak. Mens sou kon se dat God die hemelse posdiens tot ons beskikking stel om gawes aan mekaar te stuur, maak nie saak hoe ver ons van mekaar af is nie. Gebed vir ander en tot hulle voordeel is nie net ‘n voorreg nie, maar ook ‘n verantwoordelikheid. In Jak 5:14 kry ons waarskynlik een van die konkreetste oproepe om vir mekaar te bid. Hier sien ons watter rol voorbidding in die vroee kerk gespeel het. Gelowiges moet oor alledaagse probleme soos siektes ens saambid. Maar dis nie al nie. Johannes vra in 1 Joh 5:16 dat die gemeente sal intree en voorbidding doen vir iemand wat iets verkeerd gedoen het. So naby aan mekaar moet gebed gelowiges bring, want ons gebede maak ‘n verskil. In die NT gaan voorbidding hoofsaaklik oor die intree vir medegelowiges by God. Maar dit beteken nie dat ons nie vir ons vyande mag nie. Paulus dring in 1 Tim 2 daarop aan dat ons vir diegene moet bid wat regeer. Dit maak nie saak of ek hulle beleid ondersteun of aan hulle politieke affiliasie behoort nie. Die opdrag bly dat ons moet bid. Maar hou in gedagte: Dit is goed en wel dat ons met die Here oor dinge praat. Maar ons moet besef dat gebede verantwoordelikhede bring. Jy kan nie vir die Here vra om jou buurman te red as jy aanhou om in kwaaivriendskap met hom te leef nie. Jy is immers die een deur wie God aan jou buurman wil verskyn. Onthou, ons saak is God se saak en God se saak is ons saak. As ek bid dat my huwelik moet verbeter moet ek bereid wees om aan daardie huwelik te werk. Voorbidding bring verantwoordelikheid. Wees versigtig om maklik te se “Ek bid vir jou” en dan doen ons dit nie. Die verantwoordelikheid wat met voorbidding gepaard gaan is enorm, maar die seen en vrede wat mens beleef wanneer jy sien hoe jou gebede vir iemand anders beantwoord word kan met niks vergelyk nie. Here, help ons om getrou te wees in ons gebede vir ander. Lei ons in ons gebedslewe wanneer ons mekaar voor U voete neerle. In Jesus Naam