Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore aan elkeen. Dirk aan hierdie kant. In ‘n baie arm deel van ‘n dorp was daar mense wat nooit kerk toe gegaan het nie. Die ds besoek hulle toe en toe hy vra waarom hulle nooit kerk toe kom nie se hulle dat hulle nie kerkklere het nie. Die gemeente samel toe mooi klere in en gee dit vir hulle. Tot die gemeente se verbasing het hulle steeds nie kerk toe gekom nie. Weer is die ds soontoe met die vraag wat van hulle geword het. Ds, ons lyk nou so mooi ons gaan nou na die ryk mense se kerk toe was hulle antwoord. Sommige super kerkgangers sal vir jou se dat Hebr 10:25 se dat ons nie van die onderlinge byeenkomste van die gemeentes moet wegbly nie. Ander sal weer se nee, ek kan die Here net so goed in my huis dien. So wie is nou reg? Is dit nodig om kerk toe te gaan? In die Bybelse tyd was mense ongeletterd gewees. Daarom was daar spesiale geleenthede gewees waar hulle saamgekom het en deur die leiers van die gemeentes geleer is. In Kol 3:16 kry ons ‘n verwysing daarna wanneer Paulus die gemeente opdrag gee om mekaar te leer en te onderrig met alle wysheid. MAW as jy die kerkbyeenkomste gemis het het jy nooit van God geleer nie. Vandag is dit anders. Mense luister kerk op die radio of op TV. Hulle lees self die Bybel en gaan Bybelskole toe. Geestelike boeke is oral beskikbaar. Daarom raak dit vir sommiges uiters vervelig om te luister hoe die ds vir jou vertel wat jy alreeds weet. Maar afgesien van die feit dat mens hopelik tog in die kerkdiens iets nuut sal leer is daar veral twee ander redes waarom ‘n gelowige wel kerk toe behoort te gaan. Eerstens is dit die geleentheid waar ons ons Christenskap, redding en geloof met ander vier. As mens al die stampe en stote van die lewe moet verdra elke dag help dit geweldig baie as daar ‘n spesiale geleentheid is elke week om saam met ander vir God te dank. Tweedens. Wanneer die Skrif ons opdrag gee om vir mekaar te bid, mekaar se laste te dra, mekaar te ondersteun, is die beste plek om dit te doen in die samekomste van die gemeente. Ons het te individualisties geword. Elkeen vir hom of haarself. Die Skrif vra egter dat die kinders van die Here vir mekaar moet omgee en mekaar moet ondersteun. Dis hoe ons mekaar se laste dra. Gal 6 se opdrag. Ons is nie slegs individue nie. Ef 1 noem dat ons deel geword het van die volk van God. Die samekomste in die kerk is veronderstel om daardie funksie te vervul. En derdens is dit interessant om te sien dat wanneer die Skrif oor die gawes praat wat aan gelowiges gegee is, hierdie gawes bedoel is vir die gelowiges, binne die gemeente. Nie vir die wereld daarbuite nie. Die vraag is hoe gaan ons as gelowiges mekaar kan dien met ons Godgegewe gawes as ons nie saamkom in die eredienste nie? Dan het God mos verniet vir ons gawes gegee. Verder kan ons wel noem dat mense self die Bybel lees, dat die winkels vol boeke is wat die Skrif uitle en verduidelik. Maar somtyds staan ek in hierdie winkels en kyk na die boeke wat te koop is en my nekhare rys. Soms is dit skrikwekkend om te sien hoe die Skrif verdraai word en teksverse wanaangehaal word. Daarom kom ons saam op Sondae. Juis sodat ons helderheid kan kry oor die Woord van God, waar ons hieroor kan praat en vrae kan vra sonder om bloot een persoon se opinie in ‘n boek vir soetkoek op te eet. Daar is ‘n rede waarom die Hebreerskrywer ons vermaan dat ons mekaar moet aanmoedig om na die samekomste van die gemeentes te gaan namate ons die eintyd sien nader kom. Dis hierdie samekomste waar gelowiges met eendersdenkendes God aanbid, waar ons vir mekaar kan bid, mekaar tot diens kan wees voordat ons in die wereld daar buite diensknegte kan gaan wees. Here, gee vir elkeen van ons ‘n honger vir U woord en ‘n honger om as gelowiges in U huis byeen te kom. In Jesus Naam.