Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore. Dirk aan hierdie kant. Ai, die Bybel bly maar vol interessanthede. Ek lees in die week weer Matt 4. Spesifiek vers 12. Daar staan die volgende geskryf: “Toe Jesus hoor dat Herodes vir Johannes in die tronk laat opsluit het, het Hy na Galilea gegaan”. Na Jesus se doop en versoeking, heel aan die begin van sy openbare optrede, gaan Hy Galilea toe. Hoekom Galilea? Nou Jesus moes ‘n baie sterk motivering en rede gehad het om Galilea toe te gaan. Ons lees juis dat Hy gehoor het dat Herodes vir Johannes die Doper in die tronk gesit het. En Herodes was die koning van Galilea. Wat gaan soek Jesus dan daar? Dis mos nou moeilikheid soek om so in die leeu se hok in te stap! Trouens, ons moet die vraag vra wat Jesus in elk geval in Galilea wou gaan doen het. Sy doel was tog om Israel op ‘n nuwe godsdienstige pad te lei. Hy wou die wettisisme van die Fariseers en Saduseers vervang met ‘n genade boodskap. Maar dan is Hy mos veronderstel om eerder op Jerusalem te fokus. Nie Galilea nie. Jerusalem is die godsdienstige hoofstad van Israel. Dis daar waar die godsdienstige feeste gevier word en al die offers gebring word. Dis waar die belangrike godsdienstige leiers gewoon het. Dis mos net vanselfsprekend dat Jesus hier gaan begin. Maar miskien gaan Hy net gou ‘n vinnige draaitjie in Galilea maak en kom dan Jerusalem toe om sy bediening te begin. Want Galilea is tog die agterland van Palestina. Daar word geen godsdienstige beslissings gemaak nie. Kom ons noem dit in hededaagse terme die “agter die treinspoor” deel van Palestina. Maak dit vir u meer sin? Maar nee, Jesus gaan werk in Galilea. Volgens die eerste drie evangelies bring Hy sy hele bediening in Galilea deur en gaan net aan die einde Jerusalem toe om daar gekruisig te word. Hoe werk dit? Dit word gou in sy bediening duidelik dat Jesus juis in Galilea gaan werk omrede dit die agterland van Palestina is. Omdat die randfigure daar woon. Omdat die gemeenskap daar arm was en gereeld uitgebuit was deur die godsdienstige en politieke leiers. Dis ‘n sentrale tema in Jesus se bediening: sy voorliefde vir mense wat uitgestoot en selfs onaanvaarbaar is. Is dit ons s’n ook? IS die randfigure wat ons elke dag omring ook ontvangers van ons liefde? Ja, daardie karwag of petroljoggie. Niks met hulle verkeerd nie, want dis eerbare take wat hulle verrig. Maar kyk ons na hulle met dieselfde soort liefde en respek as dit waarmee ek na my baas by die werk kyk net voor bevorderings en verhogings toegeken word? Of selfs daardie skoonmaker by die werk, die bedelaar by die robot. Behandel ek elkeen van hulle met dieselfde respek as my vriende en kollegas? Jesus het juis hierdie hooggeleerdes eenkant toe geskuif om eerstens genade aan die armes en hongeres te gaan wys. Aan die karwagte, skoonmakers, petroljoggies, selfs bedelaars. Wie ontvang ons admirasie elke dag? Hang ek aan die lippe van die wat iets vir my kan terugdoen? Of is diegene wat vir Christus belangrik was ook vir my belangrik? Miskien moet ons in hierdie opsig onsself gaan ondersoek. Is my hart op hulle gerig by wie ek iets kan kry of het Christus so diep in my hart ingekruip dat dit nie meer oorloop van wat ek wil he nie, maar wat Hy wil he. Here, help my om ‘n hart soos u s’n te kan he vir elke mens wat my pad kruis. In Jesus naam. Amen