Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Dis Dirk wat met u gesels vanoggend en ek groet u in die naam van ons Verlosser, Jesus Christus. Onlangs het ek en Lydia die voorreg gehad om saam met vriende te braai. Goeie gelowige vriende. En tydens ons kuiertjie begin ek dink aan iets. Onder mekaar verskil ons oor hoe ons vleis gebraai moet word. Sommige hou daarvan met ‘n pienk strepie in en vir sommige moet dit net duskant ‘n offerande grens. Hoe dit ookal sy, ons hou van ons vleis op verskillende manière. Daar is ook geen reel wat se dat ons hieroor MOET saamstem as ons vriende wil bly nie. Ons kan en mag hieroor verskil. Maar in ons gesprekke en gemeenskap met mekaar het ek besef: Daar is een ding waaroor ons onomwonde saamstem. Ons het die Here Jesus baie lief. Die Bybel praat baie oor vriende en vriendskappe. Op heelwat plekke is die Skrif positief oor vriendskappe. Paulus se in 1 Tess 5:11 dat ons as vriende mekaar moet moed inpraat en mekaar moet versterk en aanmoedig deur te praat oor die wederkoms van Christus. Dis hoekom vriende daar is: om mekaar te bemoedig en te versterk uit God se woord. Prediker 4 leer vir ons dat dit goed is om vriende te he. Want twee vaar beter as een. As die een val tel die ander hom of haar op. Dis makliker om teen die sonde weerstand te bied as ek vriende het wat my daarmee help se die Prediker in vers 12. Maar die Skrif is ook waarskuwend teenoor vriende. Dieselfde Spr 18:24 wat se dat vriende nader as broers kan wees waarsku ook dat maats jou kan breek. Ek kyk soms na jongmense en wens so dat hulle hierdie waarskuwing altyd in hul harte wil ronddra. Paulus beaam hierdie waarskuwing in 1 Kor 15:33 wanneer hy se dat slegte geselskap die goeie sedes bederf. Ironies dat hy direk hierna die gelowiges waarsku om tot besinning te kom en nie langer te sondig nie. Sonde loop soms hand aan hand met die soort vriende wat ons het. Maar hoe herken ek dan ‘n goeie vriend of vriendin? Hoe weet ek dat God my vriendskap met iemand sal goedkeur? Ek dink hier het ons wysheid nodig. Miskien gee die Hebreerskrywer vir ons ‘n goeie riglyn in hoofstuk 10:24: “Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade”. Net hierna verwys die skrywer dan waartoe ons mekaar onder andere moet aanspoor. Dis daardie bekende teks wat ons aanmoedig om nie van die gemeentebyeenkomste af weg te bly nie. Sien, ‘n goeie vriend sal jou aanmoedig tot liefde en goeie dade. Is dit nie wat God wil nie? Dat ons vriende liefde teenoor ander en teenoor my sal bewys en dat hulle geloof deur goeie dade sigbaar sal word nie? Waar kom ons dan aan die idee dat die een wat die drank bring waarmee ons ons sorge gaan verdrink ‘n ware vriend is? Of die een wat net kom kuier om oor iets of iemand te skinder. Is dit vriende volgens God se standaard? Ons kan nog talle tekste aanhaal wat beskryf hoe ‘n ware vriend volgens God se standaard lyk. En kom ons wees maar eerlik: niemand hou daarvan om alleen deur die lewe te gaan nie. As iemand se hulle hou daarvan is ek seker hulle was nog nooit eensaam nie. Die enigste ding tydens die skepping wat God na gekyk het en gese het dat dit nie goed was nie, was toe Hy sien dat Adam alleen is. Genesis 2:18 se dat God gese het “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie”. In hierdie geval was dit ‘n huweliksmaat, maar nie almal het huweliksmaats nie. Sulke mense het vriende nodig. Vriende slyp mekaar – goed of sleg. Die vriende wat jy kies bepaal tot watter mens jy geslyp gaan word. Want aan jou vriende sal jy geken word. Het u dit al gehoor? Kies, en ek plaas die klem op kies want jou vriende is jou keuse. Kies vriende wat jou gaan aanspoor tot liefde en goeie dade. Kies vriende vir wie dit belangrik is om God se wil te doen. En indien jy sulke vriende het, dank God vir die impak wat hulle in jou lewe het. Here, ek dank U vanoggend vir die vriende wat U in my lewe geplaas het. Gee asb vir elkeen van ons onderskeidingsvermoë om vriende te kies wat U verheerlik. In Jesus Naam. Amen