Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore aan u almal. Dis weer Dirk wat met u gesels. ONs almal ken mos maar die Fariseers. Daardie klompie grys omies waarvan die Skrif praat wat eintlik niks anders gedoen het as om almal te oordeel omrede hulle nie die kleinste lettertjie van die wet nagekom het nie. As mense nie dinge gedoen het soos hulle geglo het dit gedoen moes word nie, was hulle vinnig om slae uit te deel. Ek dink aan die teks in Markus 2 byvoorbeeld. Jesus stap saam met sy dissipels op ‘n Sabbatdag deur gesaaides. Die dissipels waag dit toe om so in die loop van die are af te pluk en te eet. Wat ons miskien mis is dat die dissipels toe reeds verstaan het dat dit in orde is om op die sabbat are te pluk en te eet. Selfs op hierdie vroee stadium in hulle bediening het hulle besef dat die sabbat vir die mens gemaak is en nie andersom nie. Krediet aan die dissipels. Want die Fariseers, toe hulle dit sien, spring sommer vining op hul perdjie: Kyk daar! Het hulle geskree. Waarom doen hulle iets wat nie op die sabbatdag gedoen mag word nie? Ai, die Fariseers het nie ‘n idee gehad van wat Jesus gekom het om te doen nie. Maar voor ons hulle te gou oordeel, kom ons dink eers mooi hieroor. Ons is mos kerkmense ne? Gelowiges. Christene. Godsdienstiges. Ag, al daardie mooi name. Maar as ek so na die Fariseers kyk dan wonder ek self oor die hele ding. Is ons nie maar in baie opsigte dieselfde as die Fariseers nie. Ons kritiseer so maklik ander mense, dan boonop nog ander gelowiges oor hulle gedrag. Want ons dink dis mos daardie mooi manière wat ons in die hemel gaan inkry. Maar soos die Fariseers besef ons nie eintlik dat al hierdie mooi reels en regulasies gaan ons by God net mooi nerens bring nie. Ons noem dit godsdiens. Dis waarom die SKrif soveel meer gewag maak van die woord genade. Onthou u Paulus daar in Ef 2? Uit genade is julle gered, deur die geloof. Hoor u iets van wette, reels, mooi manière? Nee dis genade. Want godsdiens verkoop oordeel en straf. Nie genade nie. Godsdiens stook die vuur vir die oordeel. Genade bring water om dit mee te blus. Godsdiens hou reels en wette in stand. Genadelose reels. Hulle maak etikette soos vromes en ware godsdienstiges en kritiseer met woorde soos sondaars, verlorenes. Godsdiens laat jou van buite mooi vroom lyk, maar binne is jy nog altyd die ene donkerte. In Matt 23 vergelyk Jesus godsdiens met ‘n begraafplaas. Uiterlik is die grafte mooi versier, maar binne in is dit vol doodsbeendere. In kort, godsdiens probeer deur goeie werke ‘n plek in God se hart verdien. Genade vertel vir ons dat God ‘n verniet pad vanuit die hemel na mense se harte gebou het. U se dalk ja, maar ons het dit nou al van kleins af gehoor. Ek weet ek kan niks doen om die ewigheid saam met God te verdien nie. Dan wonder ek maar net: Hoekom hou ons dan so aan om vir ander voor te skryf wat hulle moet en nie moet doen nie. Wat reg is en wat verkeerd is. Ja, ‘n gelowige moet leef soos die Skrif van ons vra. Dis doodreg. Maar allereers vra die Skrif ook van ons om mekaar tot die uiterste toe lief te he. En liefhe is nie voorskrywerig nie, dit veroordeel nie, dit gooi nie heeltyd met teksverse nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie. Mense wat genade verstaan, het lief. Ten spyte van, nie op voorwaarde dat nie. Om lief te he beteken dat ek eerder vir jou ‘n voorbeeld gaan stel om na te volg as om jou met teksverse te bombardeer. Kom ons los maar die klippe wat ons so maklik gooi. Kom ons leef soos genademense. Here, ek het U hulp nodig om ‘n genademens te wees. Begin by my Here. In Jesus Naam. Amen