Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore aan u elkeen. Weer Dirk aan hierdie kant en ons kyk vanoggend weer na ‘n interessante teksvers. Is dit nodig/verpligtend, volgens die Woord, om jou sondes te bely voor vreemdes of bekendes soos byvoorbeeld Selgroepkennisse, of is dit genoegsaam om dit ‘n saak tussen jou en God reg te maak. Sal jy volkome vry wees as jy dit net teenoor God bely of moet ons, soos Jakobus se, ons sonde teenoor mekaar ook bely? Jakobus se dan duidelik in 5:16 “16 Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.” Die vraag illustreer ʼn baie belangrike punt van Bybellees. Laat ons begin om te sê dat sondebelydenis onontbeerlik vir ʼn gelowige is. Dit gaan oor die regstel en reg hou van my verhouding met die Here en met sy mense. Dit is dus soos God se medisyne vir my verhouding met Hom. Maar beteken dit ek moet dit in my selgroep en teenoor my vriende doen. In die tyd toe Jesus geleef het, was die groep (familie, selfs dorp) baie belangriker as die individu. Die families het ook nie so privaat van mekaar geleef soos ons nie en het eintlik omtrent alles van mekaar geweet. (Dink aan klein plattelandse dorpies). In so ʼn noue klein samelewing was verhoudings natuurlik baie belangrik, want die mense het elke dag saam met mekaar geleef en in mekaar vasgeloop (hulle het ook wat ons noem ‘uitgebreide families’ gehad wat nie net jou bloedfamilie ingesluit het nie, maar ook jou werkers en vriende). As daar dus spanning tussen twee mense gekom het, moes dit dadelik uitgeskakel gewees het, sodat die verhoudings weer normaal kon wees. Die hele groep het gewoonlik van die spanning tussen twee mense geweet en almal is dus geaffekteer. Om alles in die groep weer reg te kry, moes die saak voor almal opgelos word. Hulle het dit nie as negatief beleef of as kritiek teen die persoon wat die fout gemaak het en nou bely nie. Nee, hulle het dit gesien soos ʼn sieke wat dokter toe gaan. Almal help saam om hom of haar weer gesond te kry. As die saak dan opgelos is en die verhoudings is herstel, gaan almal doodgelukkig aan met die lewe. So werk dit ook met ons verhouding met God – ons moet ons verhouding met Hom gedurig suiwer hou. Kom ons egter na vandag toe, is daar ʼn groot verskil. Ons leef baie meer individueel en alleen, hoewel ons vriende het. Ons ken nie meer almal in die dorp of stad nie. Ons hele sosiale opset en verwagtinge is anders as wat dit in die Bybelse tyd was. Nou moet ons vra: as ek nou baie persoonlike sake met mense bespreek, hoe ervaar hulle dit en wat gebeur daarna? Ons mense beleef dit nie meer vandag soos in die verlede as die groepie wat gesond gemaak word nie. Juis daarom veroorsaak die uitpratery meer moeilikheid as wat dit oplos. Ons is nie meer gewoond aan ‘openbare belydenisse’ nie en nêrens doen ʼn mens dit nie. Jy kan soms in so situasie dinge sê wat jou baie kan blootstel, veral aan mense wat jou nie heeltemal goedgesind is nie. Dit word altyd later as ‘ammunisie’ teen jou gebruik. Boonop raak mense soms nog kwater vir mekaar in die proses en die slegste is dat ʼn mens dit wat jy sê nie daarna kan ‘beheer’ nie. Mense praat en skinder daaroor en op die ou einde ly jy nog meer skade. Dus: wees BAIE versigtig met uitpratery. Voor jy dit doen, dink tweemaal. Die skade wat dit berokken kan katastrofies wees, daarom praat die Bybel ook van ‘n wag voor ons monde. Here, help my om ‘n wag voor my mond te he en elke dag net dit te se wat tot u eer en die eer van my naaste sal wees. Amen