Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore. Dirk wat met u gesels. Wanneer dinge in mens se persoonlike lewe soos verhoudinge, finansies, kinders ens nie reg verloop nie, is dit die geneigdheid om in die nag wakker te le en te kommer daaroor. En nou kan mense maklik vir u se om nie bekommerd te wees nie en alles aan God oor te laat. Ja, praat is mos maklik as hulle nie in u skoene is nie. In sy eerste brief skryf Petrus die volgende aan ‘n paar gemeentes: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle”. Ja ou Petrus, maklik om te praat. Jy is nie die een wat wonder waar more se bord kos vandaan gaan kom nie. Jy is nie die een wat moet wakker le omrede jy jou werk verloor het nie. Kom sit bietjie in my omstandighede en dan kan kyk ons of jy weer so maklik gaan skryf dat ons moet ophou bekommerd wees. Ek het ook al gewonder wat Petrus dan nou so gekwalifiseerd maak om so ‘n uitlating te kan maak. Wel, ek meen, die man werk homself mos nie dood nie. Hy verkondig die evangelie en oral waar hy gaan het hy volgelinge wat vir hom sorg. Waaroor sal hy homself nou bekommer? Maar Hand 12 vertel vir ons ‘n ander verhaal. In vers 2 lees ons dat koning Herodes vir Jakobus laat vang het, hom mishandel het en toe met die swaard laat doodmaak het. Hy het agtergekom die Jode was baie tevrede hieroor en het toe sommer vir Petrus ook gevange geneem en toegesluit. Om seker te maak Petrus kan nie ontvlug nie het hy hom met vier afdelings van vier soldate elk laat bewaak. Sestien soldate het hom opgepas. Dis nou ‘n hoë risiko gevangene as daar ooit een was. In vers 7 lees ons dat die nag voordat hy voor Herodes sou verskyn, verskyn daar ‘n engel in sy sel. Hierdie verskyning het ‘n geweldige lig in die sel veroorsaak. En dan lees ons iets baie interessant. “Die engel vat toe aan Petrus se sy om hom wakker te maak en sê vir hom: Staan gou op”. Hoor u dit? Daar verskyn ‘n engel in Petrus se sel wat die hele plek verlig, maar Petrus slaap die slaap van die dooies. Soveel so dat die engel hom moes wakker skud. Onthou, Petrus het geweet, dalk selfs gesien dat Jakobus doodgemaak word. En dis duidelik dat Herodes dieselfde met hom wou doen. En Petrus slaap die aand voor sy verhoor soos ‘n babatjie. Dis die enigste plek in die SKrif waar ons lees dat ‘n engel aan iemand verskyn en aan hom moes raak om hom wakker te maak. Hieruit sien ons twee dinge. Eerstens dat ons heeltemal verkeerd was in ons aanname. Petrus het, as dissipel, baie bekommernis gehad. Hy sou tien teen een die volgende dag tereggestel geword het. Tweedens. Hoe kry hy dit dan reg om soos ‘n babatjie te slaap die aand voor sy verhoor? “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle”. Petrus het die geheim geken van ‘n vreedsame lewe. Nie ‘n maklike lewe nie, maar een waarin hy oor niks bekommerd was nie, maar God in alles vertrou het. Jesus se dissipels het Hom in Matt 6 gevra om hulle te leer bid. En in hierdie modelgebed was een van die dinge wat Jesus hulle geleer het om God te vertrou vir ons daaglikse brood. Ons elke dag se noodsaaklikhede. EN sover my kennis strek het Hy nog niemand teleurgestel nie. En Hy gaan ook nie begin om dit te doen nie. Ko mons vertrou God vir die dinge wat ons nodig het. Hy weet goed wat ons nodig het. Ons moet deur die geloof hierdie vertroue op Hom plaas en daarna rustig gaan slaap. En dan wag ons met opgewondenheid om te sien hoe God die situasie gaan uitsorteer. Here, help ons om u te vertrou met ons daaglikse behoeftes. Amen