Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore aan ‘n ieder en ‘n elk. Dirk aan hierdie kant. Ek dink ons almal het al in tye van krisis gewonder waar ons hulp kan gaan soek. En ek is redelik oortuig dat vir omtrent elkeen wat vanoggend hierna luister is daar die versekering dat indien ‘n krisis toeslaan, u sal weet na wie toe om te gaan vir hulp en bystand. U het dalk ‘n vriend, vriendin of ‘n ouer by wie u kan gaan raad of hulp en bystand vra. Wel, in die OT tyd was mense nie so gelukkig nie. Psalm 146 noem vir ons nege groepe mense wat in die tyd van die Ou en selfs Nuwe Testament maar swaar gekry het. Hy praat van verdruktes, die wat honger ly, gevangenes, blindes, bedruktes, regverdiges, vreemdelinge, weeskinders en weduwees. Hier kan ons nog die siekes ook byvoeg. Hierdie mense het niemand gehad om heen te gaan vir hulp en raad en ondersteuning in tye van krisis nie. Hulle was aan hul eie lot oorgelaat. In sommige gevalle het hulle nie eens ‘n dak oor hulle koppe gehad nie. Laat staan nog vriende en familie wat hulle kon ondersteun. Maar die Psalmdigter se meer as wat ek tot nou toe aangehaal het. Hy noem iets wat ondenkbaar was in die tyd van die OT. Hy se dat daar is hulp vir hierdie mense. Luister hoe troos hy hierdie mense in vers 5 in Die Boodskap vertaling. “Hoor mooi, jy sal nie ’n fout maak as jy op die God van Jakob vertrou om jou te help nie. Hy het deur die geskiedenis gewys dat jy Hom kan vertrou.” Iemand wat die Here as sy God vertrou, is ’n baie gelukkige mens. Hoor u dit? Hy se God is die een wat self vir hierdie mense sorg. En voordat hy hierdie versekering gee meld die Psalmdigter iets baie belangriks. Aan die einde van vers 6 se hy dat God nooit dit wat Hy gemaak het in die steek sal laat nie. Dadelik dink ons mos hier aan die skepping. Maar u en ek is ook deel van die skepping. Ons is ook tog deur God geskape. En hier se die digter dat God niks wat Hy geskep het in die steek sal laat nie. Ook nie hulle wat verdruk word, honger ly, in die gevangenis is, blind is, bedruk is, weeskind of weduwee of wat ookal nie. Want iets wat ons regdeur die Skrif vind is dat God ‘n hart het vir diesulkes. Dis byna asof God ‘n spesiale soort liefde het vir hierdie mense. Veral Lukas beskryf in sy evangelie hoe Jesus Homself ontferm het oor hierdie groepe mense. En hier begin ons probleem. Ja, u het reg gehoor. Ons het nou ‘n probleem. Want as ons as gelowiges geroep word om meer en meer aan die beeld van Christus gelyk te word, dan beteken dit dat dit is waar ons hart ook moet le. Dit beteken dan dat ons as gelowiges ook daarna moet streef om die lewe van die bedruktes, hongeres, weeskinders, weduwees en verdruktes beter te maak. Want dis tog die hart van God. ‘n Ongekende liefde vir hulle wat nie vir hulself kan opstaan of sorg nie. Iemand het eendag gese as jy wil weet waar le die hart van ‘n gemeente, kyk maar net na hulle begroting. Miskien geld dit nie net vir gemeentes en die kerk nie. Is dit nie maar waar van almal van ons nie? Want reg rondom ons is daar mense wat in hierdie kategorie val. Ons hoef nie ver te soek nie. Ek praat van mense wat nie vir hulself kan sorg of voorsien nie. Weeskinders, verdruktes, weduwees, siekes. Hoe reageer ons teenoor hulle? Kry ons hulle maar net kopskuddend jammer? Wanneer ons vir mekaar se: Shame, dis tog so hartseer. Wel, dit was nie die hart van God nie. Dit was nie Jesus se optrede teenoor hierdie mense op die rand van die samelewing nie. Nee, Hy het nie net jammer gekry nie. Hy het ook iets gedoen. Here, help ons om nie net jammer te kry nie, maar ook te doen soos U sou doen. In Jesus Naam