Datum:
Opskrif:
Gedagte:
‘n Nuwe dag. Nuwe dinge. Somtyds wonder ek of nuwe dinge so goed is. Dit bring gewoonlik nuwe uitdagings. Uitdagings waarvoor ons nie altyd kans sien nie. Dit bring ook nuwe onsekerhede. En niemand hou van onsekerhede nie. Nuwe verantwoordelikhede, nuwe konfrontasies en so kan ons aangaan. Maar kom ons kyk na nuwe dinge in die Skrif. Die ontstaan en vorming van die volk van God. Vir Israel het dit baie nuwe uitdagings meegebring. Nuwe wette, nuwe rituele, nuwe verbond ens. Maar uit hierdie nuwe negatiewes is die Heiland gebore, Hy wie vir ewig op die troon sal sit en sal heers tot in alle ewigheid. Israel was gewoond aan Egipte. Hulle het op ‘n stadium na Egipte se vleispotte terugverlang. Die nuwe ervaring van ‘n woestyntrek was vir hulle baie moeilik en het hulle gereeld by Moses gekla oor die swaarkry. Maar die swaar van die woestynpad was, soos die engelse sou se, “a mean to an end”. Want dit het op Kanaan uitgeloop. Die beloofde land. Hierna skeur die ryk in twee, naamlik Juda en Israel. Dit loop uit op vyandskap tussen die twee ryke en God se volk baklei onder mekaar. Hierdie was ‘n vreemde situasie, ‘n nuwe situasie, want die Joodse volk was altyd saamgebind onder een God. Nou is hulle verdeeld. Dan volg die ballingskap. Nuwe omstandighede onder ‘n heidense regering. Weer nuwe wette en nuwe reels. Maar toe die ballingskap eindig en meeste van die Jode terugkeer na hul land toe, word die volk weer een. Weer nuwe omstandighede, maar omstandighede wat die tafel gedek het vir die koms van die Messias. Dan praat ons nie eens van die nuwe lewe van die dissipels nie. Hulle wat alles net so gelos het en Jesus gevolg het. En hierdie volg was radikaal nuut gewees. Maar so het die nuwe volk van God ontstaan. Die kerk van Christus. Paulus se bekering het ‘n nuwe lewe vir hom teweeg gebring. Maar hieruit het die sending na die heidene toe ontstaan. Sien u die patroon raak? Elke nuwe begin, elke nuwe veranderinge het uitgeloop op die vervulling van God se plan met hierdie wereld. Maar daar is nog een “nuwe” wat ons nog nie genoem het nie. Luister na God se woorde in Openbaring 21:5: “Toe se Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”” Hierdie is nog ‘n “nuwe” wat vir elkeen van God se kinders wag. Maar dis nie ‘n nuwe wat ongerief, uitdagings, laste ens teweeg gaan bring nie. Hierdie is ‘n wonderlike nuut, die nuut waarna ons almal uitsien. Die dag waarop alles nuut gemaak gaan word en waarvan u en ek deel gaan wees. Sien, nie alle nuwe dinge hou onheil in nie. En soos hierdie nuwe jaar vandag afskop, met onsekerhede en al, kan u en ek verseker weet. Dat alles pas in in God se heilsplan met hierdie wereld. Alles is deel van die roete wat gevolg moet word om by die punt te kom waar God se plan met u en my en ons rol in hierdie wereld in vervulling sal gaan. Ook hierdie nuwe dinge sal ten goede meewerk vir hulle wat Hom liefhet. Kom ons gryp die dag. Kom ons gryp die jaar en leef voluit met ons oe gerig op Hom, die Begin maar ook die Voleinder van ons geloof. Met die wete dat ook hierdie nuwe dag en jaar ten goede sal uitwerk vir ons wat Hom liefhet. Here, hierdie dag, hierdie jaar is reeds aan U bekend. Hoe onseker ons ookal is oor die nuwe dinge wat dit gaan bring wil ons vandag se ons vertrou U Here. In Jesus Naam.