Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore. Dis Dirk wat met u gesels. Hand 17 bied vir ons ‘n oorsig van Paulus se optrede in die stad Tessalonika. Dit was ‘n gewilde stad wat op ‘n bekende handelsroete gele het. Na die mishandeling wat Paulus en Silas in Fillipi moes verduur het, begin hy in Tessalonika werk. In Tessalonika kon die tempels van baie afgode gevind word. Dan was daar ook die tempel van die gewilde Dionisius, die god van drank. Paulus het gereeld in die sinagoges gepreek en ook mense toegespreek in huisbyeenkomste waar hy verkondig het waarom Jesus gesterf het en uit die dood moes opstaan. Paulus se verkondiging dat Jesus die opgestane Verlosser is het groot oproer in Tessalonika veroorsaak. Gelowiges is aangekla omrede hulle nie glo dat die keiser koning is nie maar Christus wel. Jason, wat onder Paulus se prediking tot geloof gekom het is gearresteer en voor die stadsowerhede gedaag. Dit het mooipraat gekos om die stadsowerhede oor te haal om hom vry te laat, terwyl Paulus hulle daardie nag uit die stad gesmokkel is. En so dink ek: Is dit nie ‘n ongelooflike getuienis van die gelowiges in Tessalonika nie? Hand 17:6 en 7 se die aanklag teen hulle was dat hulle die hele wereld in beroering gebring het met hulle getuienis. Die gelowiges in Tessalonika was toegewyd aan hulle nuutgevonde geloof in Christus. Timoteus se verslag aan Paulus oor die Tessalonisense gelowiges was duidelik: Ons lees in 1 Tess 3:6 hiervan: “Nou is Timoteus van julle af terug by ons, en hy het ons die goeie nuus gebring van julle geloof en liefde”. Wat ‘n getuigskrif? Timoteus het tydens sy besoek aan die gemeente slegs geloof en liefde beleef. En dis die boodskap wat hy ook aan Paulus oorgedra het. Wanneer mense oor u en oor my praat, vertel hulle ook dan van ons geloof in Christus en ons liefde teenoor mekaar? Of vertel hulle van die dinge in ons lewens wat ons liewer graag onder ‘n kombers sou wou wegsteek? In hoofstuk 1: 8 noem Paulus aan hierdie gelowiges dat mense oral gehoor het van hulle geloof in God. Trouens, die hele hoofstuk 1 van hierdie brief handel oor die voorbeeld wat die gelowiges in Tessalonika vir die res van die wereld is. Sou dit nie wonderlik wees indien mense so getuig van die gemeente waarin u God dien nie? Dat selfs diegene wat vir ons vreemdelinge is getuig van die werk van ons geloof, die inspanning van ons liefde vir mekaar en doe hoop wat hulle kan sien wat ons in die Here Jesus het, aldus vers 3. Maar meer nog, dat dit al sal wees wat mense kan se as hulle oor ons sou praat. Ja, maar Dirk, jy ken nie my omstandighede nie. Jy weet nie watse werk ek doen, of watse huweliksmaat ek mee getroud is nie. Jy ken nie die swaar waardeur ek gaan nie. Dis miskien so, maar moenie vir een oomblik dink dat dit vir die gelowiges in Tessalonika enigsins makliker was nie. Inteendeel, Paulus noem in vers 6 dat hulle die woord onder baie moeilike omstandighede aangeneem het. Hulle is vervolg vir hierdie nuwe geloof wat hulle verkondig het. Die oproer wat tot Paulus se vlug aanleiding gegee het, het al die aandag in die stad op hulle geplaas. Maar steeds het Paulus, daar waar hy as vlugteling in Korinte gesit het, die nuus via Timoteus ontvang dat sy geloofskinders in geloof en liefde leef. Kan ons nie ook maar so leef dat al waaroor mense sal praat en al waaraan hulle sal dink wanneer u en my naam genoem word, is ons geloof en liefde. Ons geloof in Christus en ons liefde vir Hom en vir mekaar. Kan u dink hoe dit Christus sal verheerlik? Here, dis on seen begeerte om so te lewe. Help ons asb daartoe. In Jesus Naam. Amen.