Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore. Dirk wat met u gesels vanoggend. Vrydag vier ons Menseregtedag. Vir sommige mense is dit nie iets wat so lekker afgaan nie, al beteken dit nog ‘n dag by die huis. Want as ons dink aan menseregte vieringe dan dink ons aan optogte en vernietiging van geboue ens. Ons sien gereeld op die nuus en in sosiale media hoe mense geboue afbreek en brand, die strate bemors ens en dit alles in die naam van menseregte. Hierdie optrede veroorsaak dat ons in die algemeen maar negatiewe gevoelens jeens dinge soos mensregte het. Ek het oor die naweek net weer gewonder. Wat se die Skrif rondom menseregte soos ons dit verstaan? Wel, hierdie is een etiese aspek waaroor die Skrif nie sommer net ‘n klinklare antwoord gee nie. Dit wil vir my voorkom asof ons as gelowiges in ‘n sekere sin tog op sekere regte kan aandring. Volgens Genesis 1 is ons geskape na die beeld van God. Hierdie stelling verleen sekerlik ‘n sekere mate van waardigheid aan die mens, tot so ‘n mate dat ons kan aandring daarop dat ons menswaardig behandel moet word. In Hand 16 lees ons hoe Paulus in die gevangenis in Fillipi toegesluit is. Toe die stadsbestuur uitvind dat Paulus en Silas Romeinse burgers was, het hulle die stadspolisie gestuur om hulle vry te laat. Paulus en Silas het egter op hulle regte gestaan en daarop aangedring dat die stadsbestuur hulle verskoning kom vra en self uit die stad sou lei. So is daar verskeie voorbeeld in die Skrif van mense wat op hul regte aangedring het. Maar daar is ook die ander kant van die muntstuk. Daar is tog ook ‘n sin waarin ons as gelowiges geen regte het nie. Ons is tog uitverkoop aan Christus. Ons het ons lewens oorgegee aan Hom, en daarmee saam ook alle regte wat daarmee gepaard gaan. Paulus praat so daaroor in 1 Kor 6:19-20: “…julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal…” . Christus besit ons as gelowiges, in totaliteit. Maar ons moet in gedagte hou dat God se outoriteit oor ons as gelowiges maak nie die feit dat ons na sy beeld geskape is ongedaan nie. Daar is tog ‘n verskil tussen mense se regte voor God en mense se regte teenoor mekaar. Alhoewel ons as gevolg van sonde alle reg verloor het om op enige regte aan te dring voor God, het ons nog steeds regte teenoor mekaar. Maar watter regte is dit waarop ons as gelowiges kan aanspraak maak? Spreuke 30: 8 en 9 gee vir ons ‘n riglyn: “Praat jy vir die wat self nie hulle se mag se nie, kom op vir die reg van die wat te gronde gaan; praat, en lewer regverdige uitsprake, laat reg geskied aan die armes en ellendiges”. Hierdie riglyn vind ons regdeur die Skrif waar ons as gelowiges opgeroep word om op te staan vir hulle wat dit nie vir hulself kan doen nie. Dit is nie ons as gelowiges se regte om aan te dring op die dinge wat so geredelik in die nuus is soos gratis dit en gratis dat nie. En as ons nie ons sin kry nie kan ons nie maar maak en breek soos ons wil nie. Dis ‘n totale onchristelike optrede. Nee, ons as gelowiges moet besig wees met die regte van hulle wat nie hul eie saak kan stel nie, vir die regte van die armes, die hongeres, die weduwees. Dis die menseregte waarop ons kan aandring. En ons dring daarop aan omrede hierdie mense almal, ongeag stam volk taal of nasie, na die beeld van God geskape is en sy verteenwoordigers op aarde is. Here, help my om nie altyd op my eie regte aan te dring nie, maar te veg vir die regte van hulle wat dit nie vir hulself kan doen nie. In Jesus Naam