Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore. Dirk aan hierdie kant. Iemand vra my in die week oor Eksodus 33 met spesifieke verwysing na die gesprek tussen God en Moses. Onthou u dit? Dit was die gesprek waar Moses vir God gese het dat hy asseblief self saam met die Israeliete moes trek, en indien Hy nie self saamgaan nie moet Hy hulle maar net daar laat bly. Die vraag wat die persoon gevra het was hoe kon Moses so van God verskil en hoe kon Hy so, om die minste te se, arrogant wees om God uit te daag? Die vraag wat ek wil byvoeg, en dis maar wat ons altyd moet doen wanneer ons met die Skrif besig is, is wat beteken hierdie teks vir ons in ons eie en unieke omstandighede? Wel, kom ons beantwoord eers die vraesteller se kwelling. Hoe kon Moses van God verskil en Hom in die proses eintlik uitdaag? Dis mos arrogansie of hoe? Maar eintlik is dit juis Moses se vertroue op God wat hom tot sulke uiterstes gedryf het. Hoe kom ek daarby uit vra u? Wel, om die antwoord te kry dink ek moet ons heelwat terugblaai in Eksodus. In Eks 23:20-21 is God besig om vir Moses die reelings te gee vir hulle trek. God se dan die volgende aan Moses: “Ek, die Here, stuur 'n engel voor jou uit om jou op die pad te beskerm en jou na die plek toe te bring wat Ek vir jou reg gemaak het. Gee ag op die engel en luister na hom; moet jou nie teen hom verset nie. Hy sal jou nie vergewe as jy teen hom in opstand kom nie, want Ek het aan hom my volmag gegee.” Luister spesifiek na die woorde “Hy (die engel) sal jou nie vergewe as jy teen hom in opstand kom nie. Terug by hoofstuk 33 sien ons dan dat Moses vir God vra om liewer self saam te gaan andersins bly hulle net daar. Aan die einde van ‘n onvergeetlike ervaring waar Moses in ‘n rotsskeur sit en God van agter kon sien, gee hy hierna sy rede waarom hy die vrymoedigheid geneem het om hierdie versoek aan God te rig. In vers 9 van hoofstuk 34 se Moses aan God dat hierdie volk moedswillig is, vol ongeregtighede en sonde. Die Boodskap vertaling praat van ‘n hardkoppige volk. Met ander woorde: Moses se argument was soos volg: God moet self saam met Israel trek juis omrede hulle sulke moedswillige en hardkoppige mense is. Onthou, God het in hoofstuk 23:21 gese dat die engel wat Hy saam met Israel sou stuur hulle nie sal vergewe as hulle in opstand teen hom kom nie. Moses het geweet dat Israel se enigste hoop was dat hy God moet oortuig om self saam te gaan. Want in die rotsskeur het Moses iets anders van God geleer. Ons vind dit in vers 6 van hoofstuk 34. Terwyl God by Moses verbygegaan het, het die Here die volgende woorde uitgeroep: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig en vol liefde en trou.” Moses het geweet, dat gegewe Israel se hardkoppigheid en sonde, hulle slegs ‘n kans op ‘n toekoms sou he indien God self saamgaan en nie ‘n engel by wie daar geen vergifnis vir die volk sou wees nie. Daarom dat Moses so by God aandring om self saam met Israel te trek. En vandag? Wel, dis steeds hierdie selfde genadige God, die Een wat vir jare die hardkoppigheid en moedswilligheid van Israel verdra het, aanhoudend vergewe het en deur alles steeds Israel se God gebly het. Dis steeds die genadige God vir wie ons vandag aanbid. Lankmoedig en vol liefde en trou. En genadiglik is dit God se karakter. Want op ‘n manier is ons vandag in dieselfde bootjie as Israel. Geen vooruitsig op ‘n toekoms nie, behalwe as God en God alleen al die pad saam met ons gaan wees. Geen onvergewensgesinde engel nie. Nee, ons het eerder ‘n God nodig wat in die besigheid van vergifnis is, juis omdat ons so ‘n geweldige behoefte aan vergifnis het. Here, dankie dat u ons steeds vergewe, elke dag, ten spite van ons hardkoppigheid en moedswilligheid. Amen