Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Dis Dirk wat met u gesels. Die Psalmdigter skryf in Psalm 102 die volgende woorde: "Ek voel so verlate soos 'n pelikaan in die woestyn, soos 'n uil tussen murasies. Ek is slapeloos en het geword soos 'n eensame voël op die dak." Hierdie raak beelde verduidelik presies die belewenis van eensame en verlate mense : jy voel uitgestoot, jy beleef dat jy onsigbaar is in geselskap, mense stel nie belang in jou nie, hulle het jou vergeet. Mary Greer se woorde is 'n raak beskrywing: "Loneliness is living in a shell." Jesus het sonder moeite met hierdie soort mense konnekt. So nooi Hy Homself vir ete by Saggéüs, 'n gehate tollenaar - en Hy, God self, word mens vir 'n ander mens. Die gevolg? 'n Sondaar, 'n winsjagter en 'n afperser se lewe word deur hierdie onkonvensionele hand van vriendskap gered en hy verander op sy beurt weer wonderbaarlik in 'n mens vir ander mense: hy gee vierdubbel terug wat hy afgepers het, en deel die helfte van sy besittings aan die armes uit. Toe 'n Samaritaanse vrou water kom skep op 'n tyd wat niemand anders daar sal wees nie, sien Jesus nie 'n vrou met 'n verlede en 'n reputasie raak nie. Nee, Hy sien 'n eensame mens in nood - 'n pelikaan wat in die woestyn ronddwaal. Hy knoop intensioneel met haar 'n gesprek aan - sal sy mens vir 'n ander mens wees en water vir Hom skep? Sy doen dit en deur Sy gesprek met haar daarna, word Hy eers mens vir haar en uiteindelik ook haar Verlosser. Dalk voel jy verlate soos 'n pelikaan in die woestyn, 'n uil tussen murasies of eensaam soos 'n voël op 'n dak, onthou Jesus se woorde: "Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was." (Luk 19:10). Lig jou dan op van jou dak van eensaamheid, of jou murasies en woestyn van verlatenheid en hardloop na Hom toe - Hy wag vir jou en wil by jou kom woning maak. Hy wil mens vir jou wees. Een wat luister en hoor, een wat troos soos niemand anders nie, een wat rigting wys. Of dalk weet jy van iemand anders wat so voel. Word dan mens vir daardie mens - kraak daardie dop van sy eensaamheid oop. Jy het mos self al so gevoel op ‘n stadium. Toe het jy gewens vir iemand om op jou pad te ko men mens vir jou te wees. Net te luister, daar te wees. Nou ja, ken jy iemand wat so iets nodig het? Jy vra Hoe? Gee jouself en jou tyd. Stel belang in wie hierdie persoon is, waarvan hy of sy hou, nooi hom of haar vir 'n koppie koffie, gaan uit jou pad uit om die Godbeeld in die mens voor jou raak te sien. So word jy instrumenteel om die gawes in daardie dop, vlerke te gee. Dit was een van Jesus se grootste wense. Dat ons sy hande en voete sal wees vir hulle wat in nood is, krisisse en hartseer beleef, verdwaald is. Dat u en ek ‘n Christusmens vir ander sal wees, die binne die gemeente maar veral die wat nie maklik die binnekant van ‘n kerkgebou sal sien nie. Here, wys my hoe om U hande en voete en U ore en mond vir diegene rondom my te wees. Amen.