Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Die mens se drang vir oorlewing is geweldig sterk, en sy vermoëns is verstommend. Dit is nou op fisiese vlak, maar op die vlak waar jou siel begin spartel, raak dit 'n ander saak. Hoeveel kan 'n mens hanteer? En wat as jy voel jy kan net nie meer nie? En dan vra mens dalk: "waar is die Here?" Dis die moeilike een. Sekerlik dié moeilikste vraag. Dis maklik om te sê: "Wag op die Here", of: "Jy sal nie nou verstaan nie, maar eendag sal jy". Dis gewoonlik ook die tyd wat almal jou verlaat, en dit voel of jy alleen staan. Voel jy vandag so? Of miskien ken jy iemand wat só voel? Hoeveel kan 'n mens hanteer? Baie! Vreeslik baie, maar net tot op 'n punt. En as daardie punt bereik word, is daar net een uitweg oor … en dit is om op die Here te vertrou, te kyk na sy "track record", en te weet dat Hy tot alles in staat is. Wanneer ons nie meer kan nie, KAN HY! Watter mens kan ek vertrou? Kan geld my probleme oplos? Wie kan ooit doen wat God kan doen? Iewers moet ek op die punt kom wat ek moet sê: "Here, nou nie meer ek nie, maar U kan". Die Here se beloftes is tog meer werd as enige mens s'n. En kyk wat sê Hy: · Jos 1:5 "Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie." Kan jy DIT glo? · Ps 91:15 "Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor, in sy nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in sy eer herstel". Klink hierdie belofte goed? · Jes 41:10 "Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou. Ek help jou, Ek hou jou vas, met My eie hand red Ek jou" En so kano ns aangaan en die een teksvers na die ander opnoem met dieselfde trant en boodskap. Ek is by jou. Kan jy sien dat God aan jou kant is? Hoeveel kan 'n mens hanteer? As jy alleen staan, MIN. Maar saam met die Here, baie! Hoe maak ek as dinge te veel word? 1) Hou op veg. Erken dat jy nie alleen kan verder nie. 2) Deel jou probleme, vrese en bekommernisse met iemand, die Here gee mense vir mekaar om mekaar te help: 3) Weet dat die slegte tye en dinge nie vir altyd aanhou nie. Daar kom gewoonlik iewers uitkoms, al lyk dit nie so nie. 4) Vat die Here op Sy beloftes dat Hy dáár is en jou vashou, dat Hy jou sal oplig en uitlig. 5) Vat elke dag, 'n dag op 'n slag. Elke oomblik wat jy kan vasbyt, is oorwinning. 6) Doen alles wat jy kan om omstandighede te verbeter. Aanvaar wat jy nie kan verander nie, en sit die res in die Here se hande. 8) Dalk lê die draaipunt net om die volgende draai. Moet nooit te gou opgee nie. 9) Wéét dat die Here jou WIL help, dit was sy belofte in al die voorafgaande verse. Here, wanneer ons wil moed opgee, help ons asseblief om onsself te kan help. Maar in alles vertrou ons op U Here. Amen