Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore. Dis Dirk wat met u gesels. ʼn Man vra eendag dringend vir twee dominees om namens hom vir die Here iets te vra. “Dit sal R100.00 kos”, sê die een. Die ander dominee onderbreek egter en sê: “By ons gemeente is dit net 25c”. “Waarom is dit so goedkoop by julle?” vra die man. “Wel”, kom die antwoord, “By ons is dit ʼn plaaslike oproep”. Die verhaaltjie illustreer ʼn belangrike punt. Ons kan in die “godbesigheid” wees, sonder om naby God te wees. As ons Hom begin soek, moet ons langafstandoproepe maak en duim vashou dat die “lyn” duidelik en helder gaan wees. Soos in Laodisea kan God buite staan terwyl ons aan die binnekant onsself met allerhande “godsdinge” besig hou en dan dink ons hou ons besig met God (3:20). Ek hoor so baie mense vir my se “Jy moet daardie en daardie gemeente gaan besoek. Gaan hoor hoe lekker sing hulle daar. En hulle dominee of pastoor preek die wereld aan die brand.” Dan wonder ek soms wat is mense se kriteria wanneer hulle besluit by watter gemeente hulle gaan inskakel. Is dit lekker sing, ‘n kragtige prediker, ‘n lewendige gemeente. Daar was in Klein Asie ook gemeentes gewees wat aan die brand was. Of so het hulle gedink. In Op 3:1 draai Christus nie doekies om as dit kom by die gemeente in Sardis nie. Luister Hierna: “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe. en tog is julle dood.” Sardis se gemeente het bekend gestaan as ‘n aan-die-brand gemeente. Maar vir Christus was hulle dood. Paulus het iets anders in gedagte gehad. En hy stel dit so duidelik in een van my gunsteling teksverse. 1 Kor 2:2: “Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as gekruisigde.” In vers 4 Hierna erken Paulus self dat hy nie welsprekend was nie. So hy was self nie ‘n dinamiese prediker nie. Dit was nie sy dinamiese persoonlikheid en goeie preke wat mense by God uitgebring het nie. Dit was die boodskap, nie die mens nie. Maar vir Paulus het dit gegaan oor Christus, en Hom as gekruisigde. Geen vertonings nie, geen uitspattighede nie, geen ligte, rook of wat ookal gemeentes hulself deesdae na toe wend net om mense te trek nie. Paulus herinner ons in Rom 1:16 daaraan dat die evangelie die krag van God is wat mense red. Waarom sal ons dan allerhande partytjie truuks uitvoer net om mense in die kerk te kry. Miskien omdat hierdie gemeentes ook Sardisse is. Hulle het oral die naam dat hulle lewe, maar dit ontbreek aan die krag van God. Hoe vind ek dan ‘n gemeente waar ek kan inskakel? Een vereiste: Word die suiwer evangelie van Christus in die gemeente verkondig? Niks anders nie. Geen ander voorwaardes nie. Ek sluit met ‘n laaste teks: In Rom 10 is Paulus duidelik – die geloof wat ‘n mens red kom deur die verkondiging van die evangelie van Christus. Nie rook op die verhoog, ‘n aan die brand orkes of dinamiese prediker nie. Net die evangelie. Here, help ons om niks anders as die waarheid van die evangelie in ons gemeente n ate jaag nie. Amen