Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore. Dis Dirk wat met u gesels vanoggend en vandag kyk ons weer na ‘n interessante teksvers. Matt 5:48 gee vir ons seker die moeilikste opdrag in die Bybel. “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” En so vra iemand my in die week hoe God iets so onmoontlik van ons kan verwag. Volmaak beteken mos perfek, sonder foute, 100%. En in die geval beteken dit sondeloos. Wie kan dan tog ooit daarby uitkom? Kan ons so volmaak soos God wees? Wel, ek het nogal gaan kyk na die vertaling vanuit die oorspronklike Grieks. En dit is woord vir woord korrek vertaal. Wel, in gevalle soos hierdie waar ons met ‘n moeilike teks moet worstel is dit raadsaam om twee dinge in gedagte te hou. Eerstens, en ek noem dit gereeld, onthou om die breer konteks van die teks in ag te neem. So wat is die breer konteks van Matt 5:48? Jesus praat vanaf vers 38 oor vergelding. En natuurlik het vergelding te doen met vyande. Diegene van wie ons nou nie juis baie hou nie. Hy noem onder andere dat ons onsself nie teen kwaadwillige mense moet verset nie, dat hierdie mense ons klere sal eis. Want dit handel ook oor ons vyande. Maar dit handel ook oor liefde. Meer spesifiek, liefde vir jou vyande. Dis niks besonders om jou vriende lief te he en die te help wat jou help nie. Tollenaars en heidene doen dit ook sê Jesus. Maar kyk na God. Hy gee reen en sonskyn oor goeie en slegtes se vers 45. Hy het nie net sy vriende lief nie. En dan volg die opdrag: “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” Volgens die hele konteks handel dit oor die liefde, oor liefde vir jou vyand, oor God wat ook sy vyande liefhet. God se liefde hou nie op by die goeies nie. Hy het ook sy vyande lief. Sy liefde het dus geen grense nie. Gevolglik beteken hierdie opdrag dat ons ook liefde sonder grense moet hê. MAW, die volmaaktheid wat ons moet hê moet ‘n bepaalde soort liefde wees: liefde sonder grense. En hier is ons by die tweede punt. Al is elke woord in die Afrikaanse vertaling reg vertaal, is daar eintlik ‘n probleem met die vertaling. Dit laat dit klink asof ons in elke geval soos God perfek en volmaak moet wees. U ken mos die slagspreek: The Bible says it, I believe it, and that settles it! Ek het selfs al dominees en pastore dit so hoor preek. Dat ons sondeloos moet wees. Maar hier sien ons dis nie so eenvoudig nie. En as gevolg van ‘n teksvers wat buite die breer konteks aangehaal word het hulle mense met skuldgevoelens gelos. Die New English Bible vertaal vers 48 soos volg: “There must be no limit to your goodness, as your heavenly Father’s goodness knows no bounds. Dis beslis nie meer ‘n woord vir woord vertaling nie, maar dit gee die betekenis baie beter weer. Die Boodskap vertaling klink soos volg: “Julle moet soos julle hemelse Vader wees. Hy het almal hier op die aarde lief. As julle ook vol liefde en respek optree teenoor almal met wie julle te doen kry, doen julle presies wat die wet van julle vra. Dan stap julle in julle hemelse Vader se voetspore. Dan is julle net soos Hy!” Volmaaktheid in liefde. Dis wat God van ons vra hier. Daarom hoef ons nie vinnig by hierdie teksgedeelte verby te lees as gevolg van skuldgevoel omrede ek besef ek sal nooit volmaak kan wees nie. Dis nie wat God vra nie. Hy vra dat wanneer dit by ons liefde vir ons naaste kom, ook ons vyande, ook diegene wat my verskrilik irriteer en frustreer, dat ons ook daardie mense sal liefhe met dieselfde liefde wat God vir hulle en vir ons het. Klink dit nie meer haalbaar nie? Maklik? Nee, beslis nie. Maar dis tog moontlik. Miskien is die probleem dat ons so hard probeer om ander lief te he met ‘n Goddelike liefde en wanneer ons faal is ons teleurgesteld. Miskien moet ons dit van ‘n ander kant af benader. Hoe meer en meer u en ek toelaat dat Christus in ons gestalte kan vind, hoe makliker gaan dit word om ander mense ook so lief te he. Miskien werk ons te hard aan die liefhe deel, en te min daaraan om meer en meer soos Jesus te word. Want die logiese gevolg is dat wanneer ons meer en meer aan sy beeld gelyk kan word, die volmaakte liefde vir ons naaste iets gaan wees wat self in ons lewens gaan manifesteer. As ‘n natuurlike uitvloeisel van ons poging om soos Christus te wees. Het u en ek lief sonder grense? Onvoorwaardelik. Maak nie saak wie nie? En dan die groot vraag. Behandel ons mense asof ons hulle so liefhet? Want ons kan maklik se ons is lief vir mense, ons kan selfs daaroor spog, maar die enigste bewys daarvan is die wyse waarop ek hierdie mense behandel. Behandel ek almal dieselfde? Van die mense van wie se inkomste ek dalk afhanklik is, hulle wat vir my besigheid inbring tot by die skoonmaker en teedame. Tot by elke persoon wat my pad kruis. Want hier is die skok: as ek nie doen nie is ek besig om myself te bluf en moet ek my verhouding met Christus weer in heroenskou gaan neem. Dan moet ek gaan seker maak of ek nog Jesus navolg en nie weggedwaal het nie. Kom ons leef ‘n volmaakte liefde teenoor ander, ook hulle van wie ons nie hou nie, ook hulle wat my nie so na aan die hart le nie. Dan is ons volmaak soos ons hemelse Vader volmaak is en hoef ons nie bang te wees vir teksverse wat ons nie verstaan nie. Here, help my om ander so lief te he dat U daardeur verheerlik sal word. Amen