Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore aan u elkeen. Dirk wat met u gesels. In Matt 18:1 lees ons die volgende: “In daardie tyd het die dissipels na Jesus gekom en gesê: ‘Wie is nou eintlik die belangrikste in die koninkryk van die hemele?” Matteus 18:1, 2020-vertaling Baie min mense ontsnap die strewe om op een of ander plek of op een of ander manier die belangrikste te wil wees. Sit maar net 'n rukkie doodstil waar 'n paar klein kindertjies saam speel en jy kom gou agter dat selfs onder hulle daar al wedywering is. Ek sit soms by 'n byeenkoms of geselligheid en kyk en luister na hoe elkeen maar graag voor in die ry wil staan en al te dikwels betrap ek myself dat ek ook na die kalklig toe beur. Kyk maar net hoe dit gaan in meeste huwelike. Die grootste oorsake van probleme in die huwelik spruit uit die begeerte om die belangrikste in die verhouding te wees. Jesus se dissipels het ook nie hieraan ontsnap nie. Hulle het nou al verskeie kere gehoor dat Jesus praat oor die koninkryk van die hemele en alhoewel hulle nie regtig begryp het wat hy daarmee bedoel het nie, wou hulle graag voor in die tou staan wanneer die belangrikste poste uitgedeel word. Jesus het baie graag van gelykenisse of voorbeelde gebruik gemaak om 'n belangrike punt te illustreer. En om die dissipels se vraag te beantwoord wat hulle aan die begin in Matt 18:1 vir Hom gevra het, roep Jesus 'n kindjie na hom toe en sê vir hulle volgens vers 4: “Wie homself dus gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemele”. Ek dink daar was maar redelik afgehaalde gesigte onder die klomp. Net 'n paar dae later bring mense hulle kleintjies sodat Jesus hulle kan seën en die hande oplê en 'n mens kan skaars glo dat die dissipels al klaar weer die les vergeet het. Jesus vermaan hulle dadelik en sê dat hulle nie die kinders moet verhinder om na hom te kom nie en onderstreep dit weer met: “…want die koninkryk behoort aan mense soos hulle”. Dan is dit ongelooflik dat 'n mens later in Lukas 22:24 van nog 'n soortgelyke situasie lees: “Daar het toe 'n twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word.” Dalk leer ons ook maar net so swaar aan die les as die dissipels, so kom ons sê maar weer vir mekaar: In God se koninkryk is niemand belangriker as die volgende een nie. Man, vrou, bedelaar, teoloog, professor, karwag, wit of swart, kind, volwassene of gestremde. Voor God is ons almal gelyk. En as dit is hoe dit in God se koninkryk werk, waarom beywer ons onsself nie nou reeds daarvoor dat ons mekaar ook so sal behandel nie. As gelyke, nie as minderes nie. Gebed: Vandag wil ons voor U pleit dat U asseblief tog die eersug uit ons lewens sal laat verdwyn. Amen