Datum:
Opskrif:
Gedagte:
4/4 Goeiemore. Dis Dirk wat vanoggend met u gesels. In Mark 15:34: Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?’ Beteken dit dat God werklik, in totaliteit, vir Jesus verlaat en alleen aan die kruis gelos het? Hierdie uitroep van Jesus in Aramees (Jesus se moedertaal) is ‘n aanhaling uit Ps 22:2, ‘n Psalm waarin die skrywer aanvanklik heeltemal verlate en alleen voel, tot God roep en dan ervaar dat sy gebed verhoor is en God tog by hom is. Daarom eindig die Psalm in lofsange vir God. Sommige Bybelverklaarders sien Jesus se uitroep in die lig van die Psalm, naamlik dat Jesus op daardie oomblik alleen en verlate gevoel het, maar tog geweet het dat God Hom nie sal verlaat nie en dat, soos in die Psalm, Hy vertrou het dat alles in lofsange vir God sal eindig. Ander Bybelverklaarders voel dat bogenoemde verklaring nie presies weergee wat Markus bedoel het nie. Volgens hulle wil Markus beklemtoon dat Jesus heeltemal verlate gevoel het, asof God nie meer daar is nie. Dit is hoe mense wat vir God verwerp het en by wie Hy nie meer is nie, ook voel. Daarmee beskryf Markus hoe groot Jesus se lyding vir ons was. Tog het Jesus nie opgehou om God se Seun aan die kruis te wees nie. Daaroor twyfel Markus nie. Dit is egter nie vir Markus ‘n probleem om nogtans die groot lyding van Jesus in terme van Godsverlatenheid te beskryf nie. Die strekking kombineer dus die twee verklarings wat ons genoem het. Jesus het regtig ons sondeskuld gedra en dit het vir Hom gevoel asof God Hom verlaat het, maar tog was God steeds daar en sy opstanding sou dit bewys. Daaroor kan ons saam met die engele bly wees. God se eer het oorwin. Dankie Here vir die feit dat U teenwoordigheid ons nooit verlaat nie, al voel dit soms vir ons so. Amen