Datum:
Opskrif:
Gedagte:
11/4 Goeiemore. Dis Dirk wat saam met u kuier vanoggend. Ons is almal bewus daarvan dat die boek Openbaring aan sewe gemeentes geskryf is. Ons lees daarvan in hoofstukke 2 en 3 van Openbaring. En iets wat ons gereeld in hierdie briewe aan die sewe gemeentes lees, is die woorde “Maar Ek hou dit teen jou ...” Openbaring 2:4, 2020-vertaling In die twee gemeentes van Sardis en Laodisea was dinge ernstig verkeerd, maar ook in Efese, Pergamum en Tiatira was daar dinge waarvan Jesus gesê het: “Ek hou dit teen jou.” Is dit regtig moontlik dat dieselfde gemeentes en gelowiges wat so deur Jesus geprys is ook foute gehad het? Ongelukkig ja. En dis sekerlik ook so in ons elkeen se lewe. Selfs al werskaf ons hard in God se koninkryk en wy ons ons lewens daaraan om aan Hom getrou te bly, is daar steeds baie foute en leemtes in ons lewens. 'n Opname van 'n mens se geestelike tekorte kan jou baie terneergedruk maak, of jy kan dit as geleentheid sien hoe om Jesus nog meer getrou te volg. Dit is waarom Jesus die dinge vir die gemeentes uitwys. Ons kan seker elkeen 'n lang lys maak van wat aandag kort in ons eie geestelike lewe, maar dalk help dit om onsself af te vra of dit wat Hy hier noem nie dalk ook by ons aanwesig is nie. Die gemeentelede van Efese was 'n bedrywige klomp. Jesus noem van hulle inspanning en volharding en die feit dat hulle nie moeg geword het om ter wille van sy Naam te arbei nie. Miskien was hulle so besig dat hulle volgens Jesus hulle “eerste liefde versaak het”. (Openbaring 2:4) Liefde vir Jesus is die heel belangrikste. Paulus skryf in 1 Korinthiërs 13:2 nie verniet dat “... al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het nie liefde nie, is ek niks!" Het ek nog tyd om Jesus lief te hê soos aan die begin of is ek dalk ook te besig? Dalk het ek so besig geraak met elke dag se rotresies dat ek God op die agtergrond van my lewe geskuif het. Miskien het ek so besig geraak met die dinge van die kerk of selfs die dinge wat ek glo in belang van God se koninkryk is dat ek nie meer tyd vir die God van die koninkryk het nie. Pergamum is 'n gemeente wat erg vervolg is en Jesus prys hulle dat hulle ten spyte daarvan nie hulle geloof in Hom verloën het nie. Ook in Tiatira sien Jesus hulle “dade en liefde en geloof en diens en volharding.” (Openbaring 2:19) Vreemd genoeg duld sommige lidmate in hierdie twee goeie gemeentes mense met afwykende leerstellings, mense wat die gemeente verlei tot verkeerde dinge, wat die verkeerde boodskap verkondig. Beteken dit in my lewe dat ek byvoorbeeld nie vriende mag hê wat nie gelowig is nie. Nee, ek dink nie dit is wat Jesus bedoel nie. Hy wil dat binne sy kerk, waarvan ek ook lidmaat is, nie afgewyk word van wat God in sy Woord vir ons geleer het nie. En dit is om God heel eerste lief te he met jou hele hart. Onlangs behartig ek die erediens by ‘n klein plattelandse gemeente en op die kansel is ‘n plaatjie waarop geskryf staan : “Meneer, ons wil die Here hoor.” Dit is jou en my plig om hieroor te help waak. Ons kan dit nie net so aan die kerkleiers oorlaat nie. Ons het elkeen as lidmate ook die verantwoordelikheid om te sorg dat die Skrif suiwer en eerlik verkondig word binne die gemeente sodat God nie dieselfde woorde oor jou tuisgemeente se wat Hy oor Pergamum en Tiatira gese het nie. Kom ons begin weer by die begin. Vergeet eers van alles waarmee u so besig is. Kom sit weer by God se voete, word stil voor Hom. Aanskou sy heerlikheid net weer vir ‘n slag en maak Hom net weereens prioriteit nommer 1. Bo alles. En maak elke dag seker dat God met opstaantyd en bedtoegaantyd steeds daardie posisie beklee. Dat Hy jou begin en einde, jou eerste en laaste, ook jou alfa en omega is. Help ons Hiermee Here. Dis baie moeilik en ons vergeet maklik wanneer die gejaag van die wereld ons insluk. Help ons asb Vader. Amen