Datum:
Opskrif:
Gedagte:
22/4 Goeiemore. Dit is weer Dirk wat met u gesels. In Genesis 17 lees ons hoedat God met Abram ‘n verbond sluit en dan die besnydenis as teken van die verbond gee. Maar wat my opgeval het toe ek weer hierdie gedeelte gelees het is God se inleidingswoorde toe Hy sy verbond met Abram beseel het. Luister Hierna. Gen 17:1 LEES!!!!! Ons almal ken die verhaal van Abram wat toe Abraham geword het, vader van menigte. Hoedat hy die vader van Israel was waaruit God sy volk gekies het om ‘n pad mee te stap. God se totale handelinge met sy volk oor die volgende paar duisend jaar sou gegrondves wees in hierdie verbond wat Hy nou met Abram sluit. En God begin hierdie verbond met Abram met ‘n opdrag: Lewe naby my en wees opreg! Alles wat hierna gese word, alles wat hierdie verbond behels, berus op die voorwaarde dat Israel naby en opreg voor God sal leef. En oor en oor in die Ou Testament vind ons dat Israel wegdraai van God af, dat God hulle straf en dat hulle hulself weer tot God bekeer. Net sodat die siklus homself later weer herhaal. Ons leef in ‘n nuwe verbond. En ons het die teken daarvan ontvang by ons doop. En hiertydens het God ook ‘n verbond met u en my aangegaan. Ek wil jou God wees, en ek wil he jy moet my kind wees. En God se opdrag aan ons by ons doop was niks anders as sy opdrag aan Abram nie. Lewe naby my en wees opreg! Ook hierdie woorde is die basis vir God se beloftes teenoor jou en my. Dat Hy vir ons ‘n God sal wees as ons naby aan en opreg voor sal Hom lewe. Naby en opreg, om altyd met integriteit voor God te leef, om God se belange altyd voor my eie te stel, en dat ons altyd sal dink, praat en optree met die wete dat ons altyd in God se teenwoordigheid is. En dan die vraag vanoggend: Leef u en ek so? So naby aan God dat sy hart ook ons hart word. So opreg voor Hom dat ons nie skaam sal wees wanneer ons sy Naam in gebed aanroep nie, maar dat ons dit met vreugde kan doen? Klink dit onmoontlik? Abram het dit gedoen, en daarom lees ons hoe die Hebreerskrywer sy lof besing in hoofstuk 11, daardie bekende gallery van geloofshelde hoofstuk. Dat hy die titel “Vader van alle gelowiges” ontvang het. Want hy het naby aan God gewandel. Opreg voor Hom. En dis wat God van u en my verwag in hierdie verbond wat tot stand gekom het en beseel is met die water van die doop. Dat ons in alles wat ons dink, doen en se aan God se belange sal dink. Paulus het dit beaam met die woorde “Vra julleself deurentyd of iets vir God aanneemlik is”. Dat ons sal onthou dat ons altyd in sy teenwoordigheid is. Dat ons voor Hom lewe, elke oomblik van elke dag. En dit moet in opregtheid wees, nie skynheilig nie, en nie sodat ons deur opregtheid God se guns kan verdien nie, maar dat ons daardeur sy hande en voete vir die mense rondom kan wees. Dat hulle in u en my sal sien hoe opwindend dit kan wees om naby aan God te leef. Here, ek wil naby aan U wees. Ek wil u nabyheid beleef elke oomblik van die dag. Ek wil opreg voor U wees. Vergewe waar ons tekort skiet asseblief Vader. En lei ons so deur U Gees dat ons altyd sal onthou dat ons voor U leef, en dat u opregtheid verwag. In Jesus Naam Amen.