Datum:
Opskrif:
Gedagte:
24/4 Goeiemore. Dirk aan hierdie kant. Ons lees in Matt 10:8 die volgende: "Siekes moet julle gesond maak, dooies moet julle opwek, melaatses moet julle reinig, demone moet julle uitdryf. Verniet het julle ontvang, verniet moet julle gee!" Antieke mense het selde onderskei tussen "dokters" en "towenaars". Towenaars sou van dorp na dorp reis, hul middele verkoop en mense van sogenaamde ongeneeslike siektes "genees". Dit was 'n heel winsgewende bedryf, daarom dat Simon die towenaar geld gehad het om Filippus te probeer omkoop (Hand 8:18). Hoewel die towenaars voorgegee het om mense te help, om hulle lewens te verbeter, het hulle eintlik mense uitgebuit. Al word hulle gesond, was die mense so diep in die skuld dat hulle nie kos kon koop nie. Jesus wou nie hê sy dissipels moet so wees nie. Alles wat hulle ontvang het, moes hulle vrylik gee. Daar moet geen rekening op hulle dienste wees nie. Dit beteken nie sy dissipels moes sonder vergoeding werk nie. Net twee verse aan (Mat 10:10) sê Jesus: "'n arbeider is sy loon werd". Dit beteken wel dat sy dissipels hulself nooit mag verryk het uit die taak wat God vir hulle gegee het nie. Arm mense mag nooit 'n las opgelê word nie. En baie belangrik: Jesus se dissipels mag nooit 'n reputasie kry as geld-wolwe nie! Om die Here te dien, was 'n voorreg is dit nie? Elke gawe waarmee ons dit kan doen, het ons verniet by Hom gekry! Ons het dit gekry om dit wat krom is in hierdie wêreld, reguit te trek: om bedroefdes te troos; om armes te ondersteun; om weerloses te beveilig; om radeloses hoop te gee! Ryk kerke is beslis nie wat Jesus in gedagte gehad het nie. ‘n Kerk met ‘n stewige bankrekening is dalk goeie sakebeginsels, maar dis uiters swak teologie! Die kerk se taak is nie om ryk te word en stewige bankrekeninge op te bou nie. Haar taak is om die armes, die hongeres, die siekes en weerloses te versorg en nie om geld op te stapel vir sogenaamde maer jare nie. Vir ‘n gemeente wat die armes rondom hulle versorg sal God op sy beurt versorg. Per slot van sake is dit nooit die gemeente se geld nie, maar God se geld. Laat ons laste vir mense ligter maak, sonder om ander laste op hul skouers te laai. Here, U woord se dat alles in die hemel en op die aarde behoort aan U. Help ons om om te gaan met U eiendom soos U dit sou doen. Amen