Datum:
Opskrif:
Gedagte:
30/4 Goeiemore. Dirk aan hierdie kant. Spreuke 24:33-34 in die 2020 vertaling klink soos volg: “’n Bietjie slaap, 'n bietjie insluimer, 'n bietjie handevou om te rus, dan kom, soos 'n rondloper, jou armoede daar aan, jou gebrek soos 'n skaamtelose man.” Die grootmense in my kinderdae het graag hierdie spreuk gebruik. As jy op 'n koue winteroggend wanneer die ryp soos poeier uitgestrooi is nog 'n bietjie in die warm bed wou bly lê, is hierdie spreuk baie gou vir jou aangehaal. Ek kan onthou hoe my ma elke keer verwys het na Spreuke 6:6 wanneer ek en my broer half 5 op ‘n koue wintersoggend die beeste moes gaan injaag om te melk. Daar staan geskryf: “Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë, en word wys.” Luiheid is glad nie geduld nie. Soos met baie van die spreuke in hierdie boek, vra 'n mens jouself af hoekom 'n spreuk soos hierdie in die Bybel voorkom. Dit het tog nie regtig iets te doen met my geloof nie, of hoe? Tog het dit, want selfs 'n mens se alledaagse lewe het met jou geloof te doen. Ek kan selfs nie my arbeid op watter vlak ook al los maak van my totale menswees en dus ook my verhouding met God nie. Om 'n werk te hê is eintlik 'n groot voorreg, veral in die lig van die baie hoë werkloosheidsyfer. As ek dus die voorreg het om te kan werk, moet ek, as ek die spreuk reg verstaan, bereid wees om voluit te gaan. Dan behoort daar nie tyd of plek te wees vir slaap en sluimer en handjies vou nie. Eksperimente met 'n werkweek van vier dae is presies die teenoorgestelde van jare gelede toe die meeste gewone werkers selfs Saterdae gewerk en dus 'n sesdag werkweek gehad het. Werk is tog ‘n instelling van God. Vroeg reeds lees ons dat dit Hy was wat die opdrag tot arbeid gegee het. In die sweet van jou aangesig…… Paulus gee die opdrag in Kol 3:22 dat ons ons werk moet doen met ‘n opregte hart uit eerbied vir die Here. In ons moderne samelewing lyk dit asof ontspanning soms voorkeur kry oor arbeid. Mense leef net vir die naweek en sien hulle beroep soms as 'n noodsaaklike euwel. Hoe noodsaaklik ontspanning ook al is, as dit belangriker raak as ons daaglikse arbeid, sal armoede dalk ook soos 'n rondloper by ons aankom. Nie noodwendig materiële armoede nie, maar beslis armoede om volledig mens te wees en as ek nie volledig mens is nie, raak dit ook my geloof, my verhouding met God. Arbeid bly tog God se opdrag aan ons. Gebed: Hemelse Vader, baie dankie vir die gesondheid en krag wat ek elke dag nodig het om my werk te kan doen. Amen