Datum:
Opskrif:
Gedagte:
6/5 Goeiemore. Dis Dinsdag, 6 Mei 2025, Dirk wat met u gesels. Die Christelike lewe kan soms soos ‘n roller coaster rit voel wanneer ons hoop, geloof en gebede bots met die onverwagse realiteite van die lewe. Wanneer ons gebede nie beantwoord word nie en ons drome is aan skerwe, dan is teleurstelling ‘n normale reaksie. As jy ‘n gelowige is, is jy sekerlik baie goed vertroud met teleurstellings. Wanneer die lewe gebeur stoei ons almal met gevoelens van teleurstelling. Soms voel dit asof God self ons teleurgestel het. En dan wil ons soos Petrus in Markus 10 die Here daaraan herinner dat ons darem alles verlaat het en Hom volg. Miskien het jy nie alles verlaat nie, maar tog ‘n klomp pynlike opofferinge gemaak. Tel dit dan nie vir iets nie? Behoort ons as gelowiges nie darem iets soos ‘n vrypas te kry wanneer dit by teleurstelling kom nie? Ek dink u ken alreeds daardie Antwoord. Soos wat ons struikel en worstel met ons eie persoonlike terugslae wil dit lyk asof ongelowige mense floreer. Geen probleme vir hulle nie. As daar egter een ding is wat baie jare se frustrasie en teleurstellings my geleer het, is dat die vraag wat ek God moet vra nie is “Waarom Here” nie, maar miskien eerder “Wat nou Here?”. En om te vra Wat nou Here? in plaas van Waarom Here? is ‘n moeilike les om te leer. Dis ‘n moeilike vraag om te vra wanneer al wat jy voel teleurstelling is. Dis moeilik om te vra as jou hart breek. Dis moeilik om te vra “Wat nou Here?” as jou drome aan skerwe le. Maar as daar nog iets is wat teleurstellings ons leer is dat jou uitkyk op die lewe gaan verander wanneer jy God begin vra “Wat wil U he moet ek nou doen Here?”. O ja, jy gaan steeds kwaad en ontsteld voel as gevolg van teleurstellings, maar jy gaan ook agterkom dat God gretig is om jou te wys wat Hy wil he jy volgende moet doen. En nie net dit nie. God sal nooit van jou verwag om iets te doen as Hy jou nie toegerus het om dit te kan doen nie. Gaan lees gerus Jeremia 1 hoe God vir Jeremia uitstuur, maar hom eers toerus om te kan gaan doen waarvoor hy geroep is. Maar die mens is nie gemaak om teleurstellings alleen te dra nie. Wanneer Jesus se Kom na my toe almal wat moeg en oorlaai is, is dit ‘n uitnodiging dat Hy juis wil he mense moet hul teleurstellings by sy voete kom neerle. En wanneer iemand vir jou se dat jy nie by God kan gaan kla nie, verwys daardie persoon maar net na die Psalms. Veral hoofstukke soos Psalm 31, 102 en 109. En wanneer ons teleurstelling beleef en die moed gekry het om vir God te vra “Here, wat wil U he moet ek nou doen?”, verwag dan ‘n Antwoord. God gaan nie dat ons ons harte by Hom uitstort en soek na sy wil vir ‘n situasie en dan sy rug op jou draai nie. Dis nie God nie. Maar verwag ook om te leer. Om te vra “Wat nou Here?” leer geloof. Dit groei geloof. Dit leer ons dat God betroubaar is en beter weet. Dat hy ons teleurstellings ook kan verander in goed. En dis dan wanneer jy tot die besef kom dat die heilige God van hemel en aarde aan jou kant is. Dat Hy nie by wyse van spreke met sy broek op die kniee gevang word nie, of onkant betrap word nie, maar dat wat ookal gebeur God by jou is en jou ook in jou teleurstellings nie alleen laat nie. Oftewel, VERAL in jou teleurstellings, jou nie alleen laat nie. Here, ons het so baie vrae en so baie emosies wanneer teleurstellings ons pad kruis. Help ons om die regte vrae te vra, en dan met ‘n verwagting te leef oor die uitkoms wat U gaan bied. Amen