Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore. Dis Woensdag 7 Mei en Dirk wat met u gesels. Daar is deesdae te veel gestryery in die kerk. Ons hoef daarvoor nie eers die Kerkbode te lees nie. Ons kan sommer die sekulere koerant of sosiale media lees om dit te sien. En hierdie media dik die stories nog meer aan asof hulle vingerwysend wil se “Is dit hoe die kerk werk?”. Sies man, skande! En hulle is reg. Dit maak ons as kerk tot skande. Dit voel soms of die kerk op aarde begin om ‘n verleentheid te word. ‘n Verleentheid vir ons wat onsself Christene noem. Maar is dit dan nie ons wat self hierdie verleentheid veroorsaak nie? In plaas daarvan om heeltyd te kibbel oor die nuutste sondes van die dag en oor wie’s reg in die kerk en wie nie, moet ons nie eerder besef dat ons eintlik genadebedelaars is nie? ONS is mos die kerk. Mense wat maar elke oggend bakhand voor God gaan staan en bedel vir genade. Maar ook mense wat niks het om in ruil aan te bied nie, maar wat alles van Hom verwag. Ons moet maar eerlik wees. Die regte wereld daarbuite, die sogenaamde real world, is maar ‘n genadelose spulletjie. Daar is dit min of meer elkeen vir hom of haar self. Daar hardloop jy van vroeg tot laat in die rotresies om mee te ding vir die toekenning as “Hoofrot van die Jaar”. Maar in die kerk van die Here is daar genade. Altans, daar is veronderstel om te wees. Ek bedoel, die Hoof van die kerk spesialiseer tog by uitstek in genade. Hy is in die genadebesigheid. Daarom is die kerk ook veronderstel om in genade te spesialiseer. Maar ongelukkig is dit allermins wat ons deesdae in die kerk aantref. Hierdie skape van Christus het gevaarlike skape geword. Hulle woorde en dade lewensgevaarlik. Jy kom dit agter as mense wat die kerkbanke warm sit soms nie kan wag om ander se foute luidkeels te besing nie. Soveel so dat ongelowiges soms maar net kopskuddend vra: “Is dit hoe die kerk werk?”. Dis verspot maklik om ander se foute uit te snuffel. Maar is dit regtig wat volgelinge van Jesus behoort te doen? Is dit ons roeping om van vroeg tot laat beskuldigend vingers in die rigting van ander mense te wys? En selfs as hierdie mense foute maak, is die bedoeling nie om hulle in liefde tereg te wys nie? Op so ‘n wyse dat ons hulle weer by God uitkry. Kritiek en skinder is tog nie die christelike manier nie. Dis nie die Bybelse manier om iemand te behandel wat oortree het nie. Dan skop ons iemand wanneer hulle le. In Luk 7 lees ons die verhaal van ‘n vrou wat ‘n sondige lewe gelei het. Maar toe sy Jesus sien, het sy reukolie oor sy voete uitgegooi, sy voete met haar trane gewas en met haar hare afgedroog. Berou lei tot genade. En as sondaars berou toon, word hul sonde vergewe. Dis wat Jesus met die vrou gedoen het. Maar ons mis dit soms onder gelowiges. Ons sien ongelukkig nie dieselfde vergifnis en genade by die liggaam van Jesus nie. Wanneer mense wat verkeerd gedoen het en berou gehad het in die kerk hul sondes bely en laat staan, is genade die laaste ding wat hulle werklik beleef. Want as ons hierdie person dan nou sy of haar oortreding vergewe, waaroor gaan ons dan nou more skinder? Dan het die nuus mos nou opgedroog. God verwag van ons, dat wanneer iemand gesondig het en dit bely het, om op geen ander wyse op te tree as wat Hyself sou doen nie. Vir die prostituut het Jesus gese Gaan en sondig nie meer nie, maar geen veroordeling uitgespreek nie. Einde van die saak. Hoekom moet die wereld ons as gelowiges soms wys hoe genade werk? En dit terwyl dit eintlik ons spesialiteitsrigting moet wees. Ken u iemand wat tot die spreekwoordelike val gekom het? Tree teenoor daardie person op soos Jesus sou doen. En doen dit eerlik en in opregtheid. Vergifnis, genade, liefde, dis wat so ‘n person in die kerk moet ontvang. Niks minder nie. Want Jesus was self die voorbeeld hiervan. Here, help ons om nie veroordelend te leef teenoor mense wat maar net op ‘n ander manier as ek sondig nie. Help ons elkeen om genade aan ander te betoon. Amen