Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore. Dis Dirk wat met u gesels op hierdie Donderdag, 8 Mei. Dankie vir die voorreg om saam met u te kuier om God se Woord vanoggend. Op 3 November 2017 was Gerco van Deventer skaars drie dae in Libië. In die konvooi waarin hulle gery het, was hulle op pad na die bouterrein waar hy vir ’n maand as paramedikus vir ’n Brits-Libiese kontrakteur sou werk. Meteens is hulle deur terroriste oorrompel, die konvooi is gestop en Gerco is gyselaar geneem. Vir die volgende ses jaar is met die terroriste onderhandel, terwyl Gerco tussen Libië en Mali as gyselaar aangehou is. Einde van 2023 het die onderhandelaars eindelik ’n deurbraak beleef en Gerco is vrygelaat waarna hy met sy vrou, Shereen, versoen kon word. In ’n artikel ná sy vrylating vertel Gerco van die angs wat hy met tye in aanhouding ervaar het. Hy is in die arm geskiet, het 50 kg verloor en het met tye vir sy lewe gevrees. Terug in Suid-Afrika voel hy egter vir die eerste keer in ’n lang tyd vry. Soms wonder ek hoeveel van ons wat as sogenaamde “vry” mense rondloop, in ons siel eintlik gyselaars is. Ons stap rond met onverwerkte trauma van die verlede, verlies, angs, skuldgevoelens, noem dit maar op. Omdat ons dit probeer ignoreer, skakel dit om in bitterheid en selfs haat teenoor mense wat ons seergemaak of te na gekom het. Só word ons gyselaars in ’n “vry” lewe. In Johannes 8:36 sê Jesus: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” Ook in In Filippense lees ons: “Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.” (Filippense 3:13b-14, 1983-vetaling) Begeer jy ’n vry lewe? Voel jy vanoggend gyselaar in ‘n vry omgewing? Neem jou situasie na God en vra Hom om in te gryp en jou vry te maak. Maak werk van dit wat jou gyselaar hou. Dit gaan nie vanself verdwyn nie en dit gaan nie help ons beoefen volstruispolitiek nie. Hy het sy Seun gegee sodat ons nie net kan leef nie, maar ’n lewe in oorvloed, vry in alle opsigte, kan smaak. EK het iemand eendag die volgende raad hoor gee: “You have tried everything, now try Jesus for a change”. Wil jy God nie maar ‘n kans gee om jou vry te maak van al die dinge wat jou vashou en gyselaar hou nie? Gebed: Vader God, ek bring vandag die dinge in my lewe na U wat my soms soos ’n gyselaar laat voel na U toe. Dankie vir u belofte dat as u Seun my vrymaak ek waarlik vry kan wees. Maak my asseblief vry. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.