Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore. Dis Maandag, 12 Mei en Dirk aan hierdie kant. Die Bybel vir almal vertaal Miga 6:8 soos volg: “Die Here het vir julle gesê wat reg is. Hy wil net hê julle moet doen wat reg is. Julle moet Hom altyd dien. Julle moet gehoorsaam wees aan julle God.” Kom ek val sommer met die deur in die huis. 'n Vraag wat elkeen van ons onsself kan afvra is of ons bydra tot God se droom vir ons wêreld? Ons wêreld is vol seer. Daar gebeur baie slegte dinge. Daar is ontsettend baie hartseer en soveel swaarkry. As jy, soos ek, gereeld nuus lees, sal jy baie bewus wees van die hartseer waardeur ons omring word. Ja, dis nie lekker nie, maar ek glo nie 'n mens moet jou kop in die sand steek nie. Ek is seker die prentjie wat ons elke dag sien van hoe die lewe vir so baie mense lyk, is nie naastenby die idee en droom wat God vir ons wêreld gehad het nie. Die vraag is wel, wat doen ek en jy om te help om dinge beter te maak? Hoe help ons die mense rondom ons wat swaarkry? Hoe dra ons by tot die gemeenskap waarin ons leef? Hoe behandel ons die mense wat ons paaie kruis – die belangrike mense, die vreemdelinge, die sogenaamde onbelangrikes, selfs die mense van wie ons nie eintlik hou nie? Probeer jy om dinge beter te maak, verhoudings te herstel, verligting te bring, te troos? Of hou jy jou goedheid net vir die mense van wie jy hou en met wie jy oor die weg kom? Die mense wat jy ken en met wie jy daagliks te doen kry? Onlangs vertel ek vir iemand in die gemeente, nadat ons ‘n grootskaalse barmhartigheidsprojek gehad het, dat daar geen groter bevrediging in hierdie wereld is as om vanaand jou kop neer te le en tew eet jy het iets vir iemand beteken vandag nie. Iemand wat nie kos of klere gehad het nie, of miskien iemand wat ‘n rygeleentheid nodig gehad het, of dat jy miskien vir iemand net ‘n gloeilamp in hulle huis kon omruil omrede hulle dit nie self kon doen nie. God se kinders weet wat sy droom vir ons wêreld is. Ons weet dit, want dit staan alles in die Bybel. Dis nie 'n maklike taak nie, en dit sal seker nooit moontlik wees om al die swaarkry en seer te verlig nie. Maar dis tog ons plig om te probeer. Hoe kan ons dan nié help om daai droom te probeer bewaarheid nie? Gebed: Here, gebruik ons, help ons om 'n verskil te maak in hierdie wêreld. Help ons om deur alles wat ons doen, u lig te laat skyn, troos te bring, pyn te verlig en by te dra om ons wereld 'n beter plek te maak. Amen.