Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore. Donderdag, 22 Mei, Dirk aan hierdie kant. Ons kyk vandag verder na die vrug van die Gees en wil stilstaan by Geduld. In Jak 1:2-4 lees ons die volgende: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. Jakobus 1:2-4 Die 1933/53-vertaling gebruik in stede van 'geduld' die woord 'lankmoedigheid' om hierdie aspek van die vrug van die Gees te vertaal. Alhoewel 'n woord wat miskien in onbruik is, gee dit tog die idee dat ons hier na iets verwys wat meer is as net die vermoë om te wag, of om iemand of iets te verdra sonder om kwaad te word. Dit wat Paulus en Jakobus van praat, verwys na volharding, standvastigheid, die vermoë om beproewings en vervolging te deurstaan asook om moegheid en nederlae te weerstaan. En dit gaan vir hulle daaroor om dit te doen met hoop. Dit beskryf 'n persoon wat ten spyte van die feit dat hy oor die vermoë beskik om wraak te kan neem, selfbeheersing uitoefen. Ons deel elke dag met mense – persoonlik, oor die telefoon, deur e-posse of aanlyn. Dikwels maak hierdie mense ons seer deur hulle aksies of woorde. Mense beledig ons of beskuldig ons van dinge wat ons nie gedoen het nie, ons bevind onsself in die middel van argumente of meningsverskille. Wanneer iemand iets sê waarvan ek nie hou nie of nie mee saamstem nie, is dit baie maklik om kwaad of geïrriteerd te word. Ek wil teen die persoon uitvaar en ek wil die argument wen. Ek wil die finale sê hê. Maar in al ons interaksie met ander moet ons geduld hê. Ons moet nie teen mense uitvaar en kwaad word nie. Ons moet geduld met mense hê, ook wanneer ons ons in moeilike omstandighede bevind. Ons beleef dinge in die lewe wat ons nie verstaan nie en ons word kwaad en kla. Maar geduld is nie om te kla en kwaad te word nie, dit is die teenoorgestelde. Dit wat jy nie moet doen nie, is om te kla. Bybelse Geduld is om 'n moeilike, pynlike situasie te beleef sonder om te kla. As Christene is dit nie ons taak om te reageer of kwaad te word en uit te vaar teenoor 'n persoon wat ons seergemaak het, of ons verkeerd behandel het nie. Die Here sal dit hanteer. Ons taak is om onsself met ander te versoen. Ons moet die pyn en al die moeilike omstandighede in ons lewens vir Hom gee. Gebed: Here, vergewe ons asseblief al die kere wat ons so skerp gereageer het wanneer ons van mening was dat iemand ons 'n onreg aandoen. Dankie vir u geduld met ons en help ons om geduldig met ander te wees. Amen