Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore. Donderdag, 29 Mei. Dis Dirk aan hierdie kant en ons onderbreek ons geselsies oor die vrug van die Gees vandag omrede dit vandag hemelvaart is. Natuurlik is dit die dag waarop Christus opgevaar het na die hemel toe. Ons lees daarvan in Hand 1:9-11. Maar ons ervaring en belewenis van die hemelvaart gaan baie arm wees as ons net die gedeelte los van die voorafgaande stuk lees. Oomblikke voor Jesus se hemelvaart het Hy ‘n paar geweldige belangrike dinge aan sy dissipels meegedeel. Dit was sy laaste woorde aan hulle terwyl Hy nog in die vlees saam met hulle was en daarom dink ek nie ons moet die essensie daarvan onderskat nie. Ek gaan nie die hele gedeelte lees nie, maar ek gaan verwys na enkele aspekte hierin. U kan self hierna die deel gaan lees. Ons lees in vers 2 dat Jesus “…deur die HG bevele gegee het aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het”. Vers 3 noem dat Hy ook aan hulle onbetwisbare bewyse gegee het dat Hy lewe. Hy het in hierdie 40 dae voor hemelvaart aan hulle verskyn en met hulle gepraat oor die koninkryk van God. Hy het belowe dat hulle met die HG gedoop sal word, maw dat hulle die HG as gawe sal ontvang. En dan kom die groot opdrag in 1:8 dat hulle moet uitgaan en getuies van hierdie evangelie moet gaan wees. Dan, direk nadat Jesus opgevaar het, vind ons hierdie 11 manne wat so na die hemel staan en staar. Ek dink hulle was nog verbysterd oor wat sopas voor hulle afgespeel het. Kan u dit in die geestesoog sien? Oopmond staar hulle na die hemel. Ek dink elkeen het gewonder: “Wat gaan nou aan?” Dan, asof God gesien het die manne het nog bietjie aanmoediging nodig stuur hy twee engele om hulle aan te help. Aan te help met wat? Wel, onthou dat die dissipels sopas ‘n opdrag ontvang het. Julle het die hele Judea, Samaria en die uithoeke van die aarde om te bereik met die evangelie kerels! Julle kan nie heeltyd so na die hemel staan en staar nie. Jesus gaan net so terugkom, ja, maar intussen is daar werk om te doen. Julle kan nie tyd mors nie!! Die wonder van hierdie hele gedeelte is dat Jesus sy dissipels toegerus het voordat Hy in vers 8 die groot opdrag aan hulle gegee het. Hy het by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en aan hulle bewyse gegee dat Hy lewe, Hy het met hulle oor die koninkryk van God gepraat, hulle belowe dat die HG kom om hulle te lei. En nadat Christus hulle toegerus het, stuur Hy hulle uit. Gaan wees getuies! En dis in hierdie tyd wat u en ek die voorreg het om te leef vandag. Net so het Jesus ons ook toegerus. Ons het sy Woord wat aan ons al die bewyse gee dat Hy leef, al die leringe gee rakende sy koninkryk en verlossingsboodskap, en ook aan ons die invloed van die HG in ons lewens verduidelik. Nou bly ons taak: Gaan wees getuies. Ja, in ons huise, in ons straat, in ons gemeente, in ons dorp en tot daar waar jy ookal gaan. Gaan wees getuie, want jy is ten volle toegerus. Dis ‘n geweldige groot opdrag. Maar as 11, en later 12 manne dit te voet kon regkry, hoeveel te meer nie u en ek met alles wat tot ons beskikking is vandag nie? Kom ons wees sy getuies totdat Hy weer terugkom met sy wederkoms. Kom ons dra hierdie nuus uit, met dade en as dit moet met woorde, totdat Christus terugkeer om ons te kom haal. Daar is net nie meer tyd om te mors nie! Here, hoe baie geleenthede gaan by my verby elke dag wat ek nie gebruik om U woord te verkondig nie. Ek is jammer dat ek nalaat Vader. Daarom is ons gebed vanoggend HG dat U ons die vrymoedigheid sal gee om hierdie evangelie te bly verkondig totdat ons die hemel geopen sal sien. In Jesus naam. AMEN!