Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore op hierdie Dinsdag, 8 Junie. Dirk wat met u gesels. Teksvers: Psalm 57:2,3: “Wees my genadig, o God! Wees my genadig, want by U soek ek skuiling. Onder u vleuels sal ek skuil tot die bedreiging verby is. 3Ek roep na God, die Allerhoogste, na God wat my sal help.” In hierdie Psalm beskryf Dawid die benoudheid waarin hy verkeer toe hy in 'n spelonk moes skuil omdat Saul sy lewe soek. Hy beskryf sy agtervolgers as "leeus, mense wat hom wil verskeur, mense wie se tande spiese en pyle is, en wie se tong 'n skerp swaard is."(v5). En by dit alles wou "hulle …… hom breek" (v7). Hierdie omstandighede laat hom egter nie fokus verloor nie. Hy roep na God wat hom lewe gee en hom in alles sou help. (v3). Hy verklaar sy afhanklikheid en vertroue in God: "Hy sal uit die hemel antwoord en my red."(v4). Dalk beleef jy vandag soortgelyke omstandighede waar jy geen uitkoms uit jou situasie sien nie. Of dalk voel jy dat mense besig is om jou te breek en dat jy niks daaraan kan doen nie. Geen woorde en geen advies maak jou hart gerus nie. Jy wil wegvlug, maar waarheen? Vlug na God toe, en wéét soos Dawid: "U omsluit my van alle kante."(Ps 139:5) Twyfel jy aan Sy vermoë? Hoor en luister dan hierna: "By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik" (Matt19:26). "Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor nie te doof om te hoor nie," (Jes 59:1) God kan nie lieg nie - Hy is Waarheid en Hy sal sy beloftes aan jou nakom. Hy beloof: "Die goeie werk wat God in jou begin het, sal Hy end-uit voer en dit voleindig op die dag wanneer Jesus Christus kom." (Fil 1:6 NAV) En as daar sonde of onreg in jou lewe is wat in die pad staan dat jy Hom onverwoorwaardelik vertrou, bely dit. Maar wat Hom betref, Sy liefde vir jou ken geen einde nie. Gebed: My Vader, ek het aan die einde van my eie krag, vermoëns en planne-maak gekom. Ek wil in U teenwoordigheid kom wegkruip, want net by U is ek veilig. Net U kan in my omstandighede ingryp en net U kan my weer laat leef. Ek wil in oorwinning kan uitroep: Ek Leef weer! Amen