Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Donderdag, 24 Julie, Dirk aan hierdie kant. Goeiemore. Jesaja 50:4 - Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat. Die volk Israel was in ballingskap in Babel en het getwyfel of God regtig vir hulle omgee; hulle het selfs geglo dat Hy die band tussen hulle losgemaak het. Niks kon verder van die waarheid wees nie – God verbreek nooit sy verbond wat Hy met die mens aangegaan het nie! Iemand was dus nodig om die volk net weer daaraan te herinner dat Hy nie ontrou soos mense is nie; dat die toestand van sy mense nie ongesiens by Hom verbygaan nie. Hy is iemand wat nie uit homself praat nie, maar wat verklaar: Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat. Swaarkry en slegte dinge kom oor die pad van elke mens – ook oor die pad van gelowiges – en dan het ons behoefte aan woorde van bemoediging, troos of hoop. En soms ook teregwysing. Leë woorde tref nie die hart van moeë mense nie. Net woorde wat vanuit 'n hart vol liefde en opregtheid gedeel word, kan bemoedig en hoop bring. En dan moet dit met waarheid deurweek en in waarheid gesê word. Geen wonder nie dat die profeet skryf: "Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik" (Jesaja 50:4, 1983-vertaling).Dit is net God wat jou 'n geoefende tong gee om op die regte tyd die regte woord in mense se lewens in te praat – heel moontlik 'n woord wat die verskil tussen lewe en dood vir iemand kan beteken. Miskien luister jy hier vanoggend en voel ook soos Israel in Jes 49:4: "Ek het my tevergeefs vermoei, ek het my heeltemal verniet afgesloof" (Jesaja 49:4). Vir jou wil dan die tweede deel van daardie vers voorhou: "Die Here sál aan my reg laat geskied, my God sal my beloon"(Jesaja 49:4b). Jy staan voor 'n taak of opdrag wat vir jou te groot is. Jy voel onbekwaam en minderwaardig. Vir jou wat wonder of enigiemand jou liefhet. Die groot God, jou Skepper het jou innig lief: "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê." (Johannes3:16) Dink jy nie dat Hy jou ook wil gebruik om in mense se lewens inspraak te gee nie? Laat Hom toe om jou te leer hóé. Gebed: My Vader, dankie dat U my knooptong kan losmaak om mense met u woorde te verkwik. Amen.