Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore op hierdie Vrydag, 25 Julie. Dirk hierdie kant. In Hand 5 lees ons van Ananias en Saffira wat dood neergeval het omrede hulle vir God gelieg het oor die bedrag geld wat hulle vir die grond gekry het. ‘n Mens kan nou wonder of hulle straf nie darem bietjie baie erg was nie. Ons vertel mos dikwels vir mekaar da tons veilig is in die hande van God. Maar dit is net een kant van die waarheid. Die ander kant van die muntstuk is dat God nie sonde by sy kinders duld nie. In die tyd van Annanias en Saffira was daar beslis ook heidene wat gelieg het, maar hulle het niks oorgekom nie. Maar wanneer Annanias en Saffira lieg, bring hulle die Naam van God in oneer en word hulle met die dood gestraf. Blaai gerus deur die Bybel en kyk hoe hierdie waarheid soos ‘n refrain deur die Skrif loop. In die tyd van Dawid was daar sekerlik honderde mans wat buite egtelike verhoudings gehad het. Maar wanneer Dawid, God se vriend, dit doen, sterf die kind wat hy buite egtelike verwek het. In die tyd van Hiskia was daar honderde heidene wat gespog het. Hulle het niks oorgekom nie. Maar toe Hiskia, God se dienskneg, oor sy besittings loop en spog, straf God hom. Gaan lees gerus die verhaal in 2 Konings 20. Dis gevaarlik wanneer ‘n mens naby God leef. Maar aan die ander kant is dit ook die veiligste plek waar ‘n mens kan wees. Dankie Vader dat ons naby aan U kan leef. Maar help ons om helig naby U te leef. Amen