Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore op hierdie Maandag, 28 Julie. Dirk aan hierdie kant. “Weerhou jou van leuens, moenie mense mislei nie.” Spreuke 4:24 Maklike praters ryg woorde uit soos 'n bol wol wat afgerol word. Hulle kry dit reg om met spitsvondigheid en stories, mense tot ounag aan't huil te kry van baie lag. Jagters se vergesogte grootpraatstories oor drie-bokke-met-een-skoot wondwerke, of die hengelaar se twee meter lange geelvis wat sommer soos niks uitgetrek is nie, word soos soetkoek opgeëet vir die waarheid. Dié soort stories het sy plek om die kampvuur, maar in ons daaglikse omgang met mense geld ander beginsels. So ernstig voel Dawid oor leuens, vleitaal, dubbelhartigheid en grootpratery dat hy 'n wens uitspreek dat God die vleitaal van die mense, diegene wat grootpraat, die wat roem op die krag van hulle tong en hulle vertroue daarin stel, sal uitroei (Psalm 12:3-5). Die Vine's Woordeboek verduidelik dat die inhoud van sulke gesprekke pervers is – die waarheid is verdraaid, bedorwe en verwronge en is verander na iets met 'n teenoorgestelde karakter. God word ook nie ontsien in die stortvloed van woorde sonder opregte bedoelings nie. Asaf sê van Israel: “Hulle het bely dat God hulle rots, dat die Allerhoogste hulle verlosser is. 36Maar hulle was vals teenoor Hom, hulle was nie opreg in wat hulle gesê het nie, 37hulle was ontrou aan Hom" (Psalm 78:36,37). Mense ontsien selfs nie eens vir God in die manier waarop hulle praat nie. Moenie dink hulle gaan jou en my ontsien nie. Geen wonder dat 'n vader aan sy seun die volgende raad gee nie: "“Weerhou jou van leuens, moenie mense mislei nie.” (Spreuke 4:24) Daar is net een woord wat die woorde wat by ons mond uitkom, moet beskryf: Waarheid (Efesiërs 4:25). Jakobus beskryf dit as 'n fontein wat vars water laat opborrel (Jakobus 3:11) en Paulus as woorde wat met sout besprinkel is (Kolossense 4:6)? Skoon, soet water les jou dors en varsgemaalde sout gee smaak aan jou kos. Ons sal onsself 'n guns bewys as ons, voordat ons tong woorde by ons mond uitstoot, onsself herinner aan die aard van ons Vader se woorde: "Daar is niks vals in wat die Here sê nie. Sy woorde is soos silwer wat oor en oor in 'n oond gesuiwer is."(Psalm 12:7). Jy bevind jou dalk in 'n situasie waar jy die slagoffer van verdraaide waarhede is of sommer net ly as gevolg van blatante leuens en vals stories wat oor jou versprei word. Moenie in die strik trap om met jou tong 'n teenaanval te loods nie. Laat toe dat die Een wie se woorde gelouter en rein is, jou regsaak vir jou stry. As jy dalk die persoon is wat iemand anders se integriteit skade aandoen met los en vas praatjies, het dit dalk tyd geword dat jy dié gebed bid: "Vader, help my om valsheid en verkeerdheid van my mond en lippe weg te jaag. Ek wil waarheid oor my tong laat heers." Amen