Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore op hierdie Dinsdag, 29 Julie. Dirk wat met u gesels. God self getuig van Job dat hy 'n vroom en opregte man is wat Hom dien en die kwaad vermy (Job 1:8). En tog het dit nie verhoed dat hy in sy leeftyd swaar beproef was en baie gely het nie. Hy is beroof van al sy vee; sy veewagters is deur weerlig doodgeslaan; sy kinders is almal op een dag dood en boonop is sy liggaam ook met siekte aangetas. En toe draai sy vriende en selfs sy vrou hulle rug op hom. Job doen wat óns ook behoort te doen: hy bekla sy lot by die Here. Hy verklaar ook sy onskuld voor Hom – iets wat jy ook mag doen as jy soos Job opreg leef en die Here liefhet. Job meen hy word onregverdig behandel, maar een ding doen hy nie terwyl hy met God in gesprek is nie: "… Job het nie gesondig of God iets verwyt nie" (Job 1:22). Slegte dinge gebeur ook met Christengelowiges, al is ons op ons gebroke manier opreg lief vir die Here en al gee ons die beste van onsself om Hom te dien. Dit is dikwels in hierdie swaar tye dat mense God se betrokkenheid by hul lewens bevraagteken en dat hulle wonder wat hulle verkeerd gedoen het dat sulke beproewing oor hulle kom. Dikwels vra hulle ook hardop of dit die moeite werd is om God te dien. Die waarheid is dat ons geen waarborg het dat ons nié swaarkry sal ervaar nie. Inteendeel, die Woord leer dat beproewinge juis deel van ons geestelike wandel sal wees sodat ons geloof beproef kan word en ons kan leer om te volhard (Jakobus 1:3). Job besef hierdie waarheid – hy weet dat hy ly ten spyte daarvan dat hy ‘n regverdige is. Jy bevind jouself dalk ook in omstandighede wat onuithoudbaar vir jou geword het. Skep dan moed. Want behalwe vir Job, is Jesaja ook bekend met vertwyfeling, en hy vra: "Wie in die donker loop en geen lig sien nie, moet op die Here vertrou, moet op sy God steun.” (Jesaja 50:10). Hoor jy? Eerstens moet jy vertrou op die Here, en tweedens kan jy steun op jou God. Vertrou God, al is dit soms moeilik. Want vertroue is ‘n blindelingse ding. Maar God is nie ‘n onwerklike persoon op wie ons maar sommer net ons vertroue plaas omrede daar niks en niemand anders is nie. Dis God se eie belofte uit sy Woord vir jou. Hy is betroubaar, Hy is jou helper, Hy hoor jou hulpgeroep en versterk jou, want Hy is die enigste Here(Markus 12:29; 1983-vertaling). Dis Dieselfde God wat jou tot hiertoe deur alles gedra het, en Hy gaan jou beslis nie nou in die steek laat nie. Gebed: Vader van deernis en betrokkenheid, dankie dat niks wat met my gebeur, nie by U bekend is nie. Ek steun op U vir krag om te volhard en sterk te staan in my geloof en my vertroue op U te midde van my stryd. Amen