Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore op hierdie Woensdag, 30 Julie. Dirk wat gesels. As volwassenes vertrou mense mekaar nie maklik nie, en met rede. Ons stel mekaar teleur, misbruik vertroue om selfsugtige redes en is sommer net onbetroubaar, daarom vertrou ons net ons eie oordeel, insig en kennis. Gevolglik vind ons dit ook moeilik om God te vertrou met die die groot en klein dinge in ons lewens. Ons moet egter verstaan dat die koningsheerskappy van God ‘n omgekeerde orde is: betoon liefde, nie haat nie; dien, moenie heers nie; gee weg, moenie opgaar nie; sterf sodat jy kan leef. Dit impliseer dat jy jou totale menswees aan God toevertrou, dat jy onbeskaamd sal doen wat ons vers vir die dag leer: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. 6Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop..” Spr 3:5-6 Wanneer gelowiges God waarlik vertrou, word ons sekerheid in Hom en sy vermoë, ons sekuriteit. Dan wil ons Hom in elke besluit ken omdat ons weet Hy sal ons die regte pad laat loop, Hy sal die pad vir ons reguit maak. Die Hebreeuse verklaring vir weë dui op ‘n pad, ‘n roete of ‘n manier van doen. Dit suggereer spesifieke geleenthede wat herhaaldelik oor jou pad kom. Een so ‘n geleentheid is die voorreg om elke oggend ‘n nuwe dag te betree en voluit te leef. Dit is asof hierdie gedeelte ons wil aanmoedig om ons hele lewe lank, elke dag, aan God erkenning te gee en Hom in die verloop van elke dag te ken. Maar hoe “ken” ons God in al ons weë? Die diepste vlak van “ken” lê in ‘n direkte, intieme verhouding met God – ‘n lewegewende intimiteit op geestelike vlak waar ons in daaglikse gebed met Hom kommunikeer. Om tyd met God te spandeer, jou hart teenoor Hom leeg te maak en jou hartsbegeertes vir Hom te gee soos Ps 37 ons beveel. Gebed: Here, onse God, ek verklaar my algehele vertroue in U as Koning van my lewe. Ek bely egter ook my geneigdheid om my eie oorskatte eiewysheid en selfingenomendheid bo u inspraak in my elke-dag-lewe te stel. Sal U vandag die rigtingwyser wees vir elke belang- rike, maar ook onbenullige besluit wat ek moet neem. Amen.