Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeiemore op hierdie Vrydag, 1 Augustus. Dirk wat met u gesels. In Hand 10:6 lees ons ‘n baie interessante teks. Daar staan geskryf: “Hy (Petrus) is tuis by 'n ander Simon, 'n leerlooier, wat by die see woon.” Die engel is hier besig om vir Kornelius te se dat hy Petrus moet laat haal om na hom toe te kom. Maar wat interessant is, is om te sien dat Petrus by ‘n leerlooier tuis is. Nou leer was in die Bybelse tyd ‘n baie belangrike materiaal gewees. Sandale, handsakke, ja handsakke is toe al deur Vroue gedra, wynsakke, tente, skilde, hoede, gordels, skedes vir swaarde ens is van leer vervaardig. Ondanks die wye aanwendingsmoontlikhede van leer was die werk van ‘n leerlooier in die antieke tyd as veragtelik beskou. Antieke geskrifte skryf dit toe aan die feit dat die leerlooier met dooie diere moes werk en ook omrede die bestandele wat hulle gebruik het, so vreeslik sleg geruik het. Daarom was daar wette wat bepaal het dat ‘n leerlooier sy besigheid slegs buite die stad mag gebou het. Dit moes ook aan die oostekant van die stad gelee wees sodat die wind nie die stank en besoedeling deur die stad sou waai nie. Om dieselfde rede was dit ook verbode om grafte aan die westekant van die stad te bou. Die leerlooier is dan ook beskou as iemand wat permanent onrein was. Daarom is dit interessant dat Petrus in Hand 10 by ‘n leerlooier tuisgegaan het. Met hierdie optrede het Petrus vir ons ‘n groot les geleer en was hy vir ons, ook vandag in die 21ste eeuse Suid Afrika, ‘n geweldige voorbeeld. Ons is mos maar baie kieskeurig soms by wie ons aan huis gaan. Ons sal mos nie maklik by iemand gaan oorslaap as ons hoor dat die huis nie Altyd so skoon is nie. Of as ons vermoed dat iemand bietjie onhigienies is nie. Ek het mense geken wat nie eens in ‘n gastehuis wil oornag nie omrede daar die vorige nag mense gebly het wat anderskleurig was. Selfs al word die beddegoed vervang. Bid jou dit aan! Petrus is egter vir ons ‘n voorbeeld dat Jesus ‘n aannemer van persoon is ongeag. Ongeag iemand se sosiale stand, se werk, en ja, ook se velkleur. Petrus slaap oor by diegene wat volgens die inwoners veragtelik was. Hulle wat van die sogenaamde laer stand afkomstig was. Hoe voel ons oor diesulkes? Sal ons by hulle oornag? Sal ons by hulle aan tafel sit sodat ander kan sien ons doen dit? Of het ons maar nog ons voor-en afkeure hieroor? Dink gerus daaroor na en gaan praat dan met God daaroor…. Here, help ons om alle voor en afkeure wat ons teenoor ander mense het af te breek en elke mens wat ons pad kruis te behandel soos U dit sou doen. Amen