Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Gister het ek iets laat val. Ek hoop nie dit het in skerwe gespat nie. Ek het laat val dat ‘n mens leer om ‘n klomp goed aan te leer en ‘n klomp goed weer af te leer. Al die jare van sport doen en later die jare van betrokke wees by my dogters se swem, het my geleer, jy moet die tegnieke reg aanleer. As jy eers ‘n verkeerde tegniek aangeleer het, dan leer jy dit moeilik weer af. Musiek werk ook so. Om Jesus te volg ook. ‘n Verkeerde tegniek maak dat jy jou competitive edge verloor. Jy verloor tyd en tyd is belangrik. Ek onthou ‘n Noord Vrystaat gala en twee sussies in die 400 kruipslag. Hulle het saam met die seuns moes swem. Die seuns het agter geraak en die twee het mekaar met mening aangevat. En die ouer sussie het net-net gewen, want sy kon vinniger draai as kleinsus. Wat haar weer ingehaal het, want sy was weer vinniger in die reguit stukke. Goeie tegniek is belangrik. Geloof is nie oor tegniek soseer nie. Geloof is ‘n geskenk wat God gee. Dit is net genade. Maar hoe ek leef met God kan wel ‘n klomp verkeerd aangeleerde dinge hê. Ek wil dit juis nie tegnieke noem nie. Wat ek wel wil sê is dat as jy Jesus volg is daar ‘n klomp goed wat jy moet afleer. Ek het as kind die ou Afrikaanse spreekwoord geleer wat sê: Moet nie aan iemand anders doen dit wat jy NIE aan jouself gedoen wil hê nie. Maar ek moes dit afleer. Dit was nie wat Jesus gesê het nie. Wat ek geleer het was neutrale gedrag ... jy maak nie seer nie ... maar dis steeds liefdeloos, want jy doen ook niks goeds nie. Dit vra ook bitter min van jou. Jesus het gesê, Matteus 7: 12 “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.” Wat verkeerde aangeleerde goed in geloof doen, is om jou jou uitsig op Jesus te laat verloor. En as jy nie Jesus duidelik voor oë het nie, begin jy onbelangrike goed belangrik maak; en jy begin om plek te maak vir goed wat nooit moes gewees het nie. Jy verloor ook die liefde en jy eindig op as ten beste nog ‘n skrifgeleerde en of ‘n fariseër. Die ene moets en moenies en geen liefde. Dis die soort van goed wat gebeur het en daar toe gelei het dat Jesus in die Bergrede met herhaling moes sê: Julle het gehoor dat ... maar Ek sê vir julle. En dan gaan dit oor haat teenoor vyandsliefde; egskeiding en verkeerde begeertes, hoe om jou medemens te help ... om net ‘n paar te noem. Begin om elke dag te bid, Here, wat moet ek afleer? Of soos Dawid in Psalm 139 Deurgrond my, o God, deurgrond my en sien of ek op die regte weg is.