Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Ek lees die storie van ‘n vrou reeds in haar veertiger jare was, wat wou leer klavier speel. Klavierspeel soos ‘n konsertpianis. Nou ... konsertpianiste oefen 6 – 8 ure per dag. Dis jare se leerdery en oefenry. Sy maak toe ‘n afspraak by ‘n konserpianis en vra dat hy haar moet leer. Die man is skepties. Hy verduidelik vir haar dat haar vingers dit dalk nie sal kan hanteer nie, want oor die jare vorm jou bene kalsium en jy verloor soepelheid in die vingers en die hande. Die kalsium maak die bewegings moeilik. Sy sal moet oefen en oefen tot die kalsium afgebreek het en haar hande ‘n nuwe soepelheid bereik het. Hy sê dis pynlik. Dit gaan voel of jou hande gebreek word. Sien sy kans vir dit? Sy sal ‘n klomp slegte gewoontes op die klavier moet afleer. En ‘n nuwe manier van speel aanleer. Sien sy kans vir dit? Die vraag is eintlik: Mevrou, is jy desperaat genoeg, honger genoeg vir jou droom om deur dit alles te gaan? Dalk stel jy nou nie juis belang in klaviere of musiek instrumente nie, maar wel in die lewe. So, kan ek jou vanoggend vra: Hoe honger is jy vir Christus? Hoe desperaat dat Hy jou lewe moet kom verander? Jesus het gesê: “Dit verseker ek jou: Wie ook al in my glo het die ewige lewe.” Hier is nou die groot ontdekking: Christen-wees gaan nie net oor die hemel en eendag na my dood in die hemel te wees nie. Jesus leer ons nou reeds hoe om met God te lewe. Jesus leer ons nou reeds hoe om in die koninkryk van God te leef. Ons moet leer hoe om in die koninkryk van die hemel te leef. Al wat ons tot hiertoe geken het is die wêreld en die hel. Nie die volle hel nie. Net wat ons ligtelik dink is hel. Die Bybel se prentjie van hel is rêrig erg sleg. Ons moet leer om nuut te leef met God. God se visie vir jou en my is so mooi in bv. Romeine 8: (en ja ek weet sommiges is dalk al moeg vir my getokkel op hierdie een snaar, maar dit is waar die lewe gebeur en waar om die lewe draai). Romeine 8 sê: 28 Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29 Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30 Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik. Dit is waar die lewe gebeur. In Christus. In ons wat gelykvormig word aan die Seun van God. Daar is ook ‘n klomp dinge wat ek en jy moet afleer. Dit is soos die kalsium, of dalk artritis in die vrou van my storie se vingers. Dit het soepelheid weg gehou van haar vingers af. Ons gaan moet oefen en oefen. Die ou kerkvaders het ‘n gesegde gehad: “Always we begin again.” Nooit arriveer jy nie. Die oomblik wat jy dink jy arriveer dan is jou eie-ek klaar weer in die pad en begin jy weer oor. Darem nie van voor af oor nie. Hier is ‘n paar goed wat ons al geleer het wat ons moet afleer. Hoe vorder jy met die verkry van hierdie soepelheid in jou lewe in? Met die roeping van ‘n gehate tollenaar, en dan gaan staan Jesus nog en eet saam met die tollenaar en die se vriende ... leer ons ons gaan moet afleer om mense te boks en te etiketteer. En te besef daardie einste volksverraaier kan iemand wees wat God wil gebruik. En ja, Jesus het gebots met die kultuur van daardie tyd en met hul sieninge oor reg en verkeerd. Hy het met vroue gepraat en met Samaritane. Hy het melaatses aangeraak. En genees. En ons leer om anders oor vrouens te dink. Jy gaan die behoefte, of die gevoel van die noodsaaklikheid om in te pas, moet afleer. Jesus het nie ingepas by die mense van daardie tyd nie. Hy was stroom op van baie van hulle sieninge. Bv. Hy roep Matteus ‘n sondige tollenaar. En gaan eet boonop by die tollenaar aan huis. En die fariseërs is ontsteld, want dis nie reg nie. Dis nie wat jy doen nie. Die fariseërs het gesê jy moet deur reg te lewe vir jou ‘n plek by God verdien. Jesus sê glo in My. Ek gee die ewige lewe. Al wat ek weet, ‘n konsertpianis kan hemelse musiek uit ‘n klavier uit lok; en ek en jy moet hemelse klanke uit die lewe uit ontlok deur soos Jesus te word en so ander nader aan God trek en hulle laat verlang om ook soos Jesus te wees.