Datum:
Opskrif:
Gedagte:
*Gedagte vir die week: Bly in die Bron* Kom ons gesels verder oor verlede week se ligstrale en lote. Johannes 15 roep ons terug na dieselfde eenvoudige, maar diep waarheid: “Bly in My.” Nie harder probeer nie. Nie meer sweet en swoeg nie. Net bly. Jesus sê ’n loot kan nie vrug dra as dit nie aan die wingerdstok bly nie. Ons ken die woorde, maar ons vergeet die ritme daarvan: vrug dra is nooit die fokus nie. Verbondenheid is. Die vrug kom vanself wanneer die loot rustig, sonder spanning, uit die wingerdstok groei. Hy is die lig. Ons is die ligstrale. Hy is die wingerdstok. Ons is die lote. Ons is onlosmaaklik uit Hom – nie soekend, nie verdwaal nie, maar uit Hom gebore. Brian Plachta herinner ons: moenie die rivier probeer forseer nie. Laat dit vloei. Maak net seker jy is nie die blokkasie nie. Soms is ons innerlike soos dik gordyne wat die lig uithou – of binne hou. Maar Jesus was duidelik: lig word nie onder ’n emmer weggesteek nie. Hy sê: “Julle ís die lig vir die wêreld.” Nie: julle sal wees. Nie: probeer om te wees. Maar: julle is. En dit verander hoe ons oor onsself dink. As ek jou vra: “Wie is jy?” en jy antwoord met jou naam, beroep, omstandighede – dan mis jy die kern. Dit is alles net klere. Jou ware self is die deel van jou wat uit God vloei: lig, sout, loot. ’n Ligstraal gaan nie die son soek nie – dit bestaan omdat die son dit uitstuur. ’n Loot gaan nie die wingerdstok soek nie – dit leef omdat die stok dit voed. Net so leef ons uit Christus. Hy straal deur ons. Hy bring die vrug voort. Galasiërs 5 sê die vrug van die Gees is nie iets wat ons produseer nie – dit is wat die Gees in ons bewerk. Ons skep net ruimte. En ruimte kom wanneer ons leeg word van ego, selfbewaring en die drang om alles te beheer. Selfverloëning is nie selfvernietiging nie – dit is om die gordyne oop te trek sodat die lig kan inkom én uitgaan. Want om jouself te probeer behou, is om ’n ligstraal sonder ’n lig te wees – en dit kan nie bestaan nie. ’n Loot sonder ’n wingerdstok is net brandhout.