Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Gedagte vir die Week: Los Jou Ou Weë — God Is Nou Hier Greame Codrington het eenkeer gesê: “Oom, tannie… die wêreld waarin jy geleer het om te oorleef, bestaan nie meer nie.” En dis waar. Die dae van perdekarre, karmenaatjies en piekniek onder ’n boom langs die pad is verby. Vandag is dit selfone, Ultra-stops en tegnologie. Die wêreld het verander — en ons moet saam verander. Vanoggend raak die verhaal van die man by die bad van Betesda my weer (Johannes 5). Hy lê 38 jaar lank siek. Jesus sien hom, weet hoe lank hy daar is, en vra: “Wil jy gesond word?” Die man kla dat niemand hom betyds in die water kan kry nie. Maar Jesus sê eenvoudig: “Staan op, tel jou goed op, en loop.” Hoekom sy goed optel? Want hy gaan nie weer terugkom nie. Daardie ou plek, daardie ou manier van oorleef, daardie ou identiteit — dit pas nie meer by ’n nuwe lewe nie. As jy genees is, stap jy vorentoe. Jy dra nie jou ou bed saam nie. En tog… hoeveel mense hunker terug na die “goeie ou dae”? Hoeveel keer val ons terug in ou gewoontes wat ons seergemaak het, ou maniere van doen wat ons ver van God gehou het? Maar Jesus het vir ons ’n splinternuwe lewe gegee. ’n Ligstraal verlang nie na donkerte nie. ’n Loot betreur nie sy groei nie. Dit is net die geknakte loot wat treur oor sy skeiding van die wingerdstok. Die wêreld vertel vir jou jy moet die regte klere dra, die regte bakkie ry, die regte adres hê om waarde te hê. Maar God se adres werk anders: Hy woon in jou. Nie in jou verlede nie. Nie in ’n droom van die toekoms nie. Nou. Ons is nie al die goed wat die wêreld sê ons is nie. Ons is lig. Ons is lote. Ons is sout. Ons is mense in wie God kies om te woon. Daarom: 🌿 Begin nou om in die hede te leef. 🌿 Kom leef waar God is — hier, in die nou. 🌿 Los jou ou weë. Dit pas nie meer by die nuwe lewe wat Jesus gee nie. Mag hierdie week vir jou ’n Betesda-oomblik wees: Staan op. Tel jou goed op. En loop — vorentoe.