Datum:
Opskrif:
Gedagte:
GEDAGTE VIR DIE WEEK: #GEENVEROORDELINGMEER In hierdie ysige koue waar ons almal soos pikkewyne rondbeweeg en die oggendwind jou sommer laat terugdink aan jou kombers, kom Romeine 8:1 soos ’n warm straal sonlig deur die koue: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.” Dis daardie gevoel wanneer jy van buite inkom, jou hande is half gevries, en iemand druk vir jou ’n stomende koppie koffie in die hand. Daardie “aaaah” wat jou hele lyf laat ontspan. God sê: Ek veroordeel jou nie meer nie. Geen skuldgevoelens. Geen ysige veroordeling. Net warmte. Net hoop. Net lewe. Maar hierdie warmte kom net in Christus. Hy is die bron, die hitte, die hartklop van genade. PAY IT FORWARD — SOOS ’N WARM VUUR IN ’N KOUE WEEK Kom ons skep ’n hashtag vir die week: #geenveroordelingmeer God gooi die veroordeling by die venster uit — so ons “pay it forward” deur ook nie te oordeel nie. Nie ander nie. Nie onsself nie. Nie namens God nie. Ons laat lewe. Ons skep warmte. Ons is die mense wat ander help ontdooi. In ’n land waar mense vinnig is om te sê “jy is te stadig”, “te sleg”, “te iets”… is dit juis nou, in hierdie koue, dat ons die warmte moet wees. Ligstrale oordeel nie — hulle verhit. Hulle skyn. Hulle help mense om God se Lig te sien. LOTE IN DIE KOUE — MAAR STEEDS VOL LEWE Ons kan net #geenveroordelingmeer leef as ons lote bly wat vas aan die ware Wynstok is. Want in Christus is daar geen veroordeling meer nie — so hoe kan dit in die lote wees? Selfs in die winter, wanneer alles kaal lyk, kry die loot sy krag van die Wynstok. Christus is jou warmte, jou voeding, jou lewe. So… waar kom jou krag vandaan? As dit Christus is, dan word #geenveroordelingmeer jou winter mantra: Warm liefde. Warm genade. Warm oë wat nie oordeel nie. Kom ons dra dit saam deur die koue week: • Spreek vry. • Laat lewe. • Skyn lig. • Bring warmte waar jy gaan. • En onthou: Wie is ons nou eintlik om oor ander te oordeel?