Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Skriflesing: Openbaring 5 ‘n Hemelse erediens. En dit is baie meer aangrypend as wat ek kon droom. ‘n Hemelse erediens en ons word toegelaat om deur Johannes iets van daardie erediens te kan beleef. En dit is belangrik veral as jy kyk na die briewe aan die sewe gemeentes in Asië, wat ons in Openbaring 2 en 3 kry. Aan ‘n kerk in ‘n stukkende wêreld, aan stukkende gemeentes in ‘n gebreekte wêreld, wys hierdie erediens waar lê die mag eintlik. Werklike, of as jy wil, ware mag. Nie by mense nie. Nie by regerings, konings of mense met wat hulle dink is mag nie. Net by God. Dit is vir jou en my ‘n moed skep oomblik. Dit was vir die eerste lesers, ‘n moed skep oomblik. Dit is bedoel as oa ‘n moed skep oomblik vir ons. Ek weet ek herhaal, want jy moet besef, niks maar niks is groter as die God wat ons dien en vir Wie ons lief het. Wat ookal jy beleef, watter krisis jy het, wat ookal jy “raaksien” oor wat mag of nie mag gebeur nie, hoor vandag: God is groter as dit. Met dit gesê, sien raak dat alle mense magteloos is. In die groter geheel van dinge, het ek en jy geen mag, geen hoop, tensy God dit anders wil. Hoofstuk 5, gee nes hoofstuk 4 doen, gee perspektief. Kom ons vra: wie is Jesus? En wie is mense? Wat haak die spreekwoordelik knoop deur, mag of magteloosheid? Mooier gestel, Wie haak die knoop deur? 1. Wie is hierdie Jesus waarin ons glo? Is Hy die Leeu van Juda? Sterk. Magtig. Eintlik, as jy mooi oor die leeu beeld dink, gevaarlik. Ons wil hê Jesus moet dit wees. Die meeste mense hou van ‘n sterk figuur, ‘n sterk held wat kan inspring en dinge reg ruk. Is Jesus net dit. Of is Jesus die Lam? Natuurlik is Jesus albei. Dit is ‘n paradoks, ‘n teenoorgestelde wat jy keer op keer raak lees. Jesus is mens maar Hy is ook die Seun van God. Hy is Verlosser maar ook Regter. Hy is Jesaja 46 se dienskneg van God wat verag is en soos ‘n lam ter slagting gelei is. Tog is Hy ook die oorwinnaar. Aan die kruis daardie Vrydag het Hy gelyk, soos ‘n verloorder, ‘n slagoffer, uitgelewer, Sy lewe kort geknip. En op die Paas-Sondag ontdek jy die Lam is ook die Oorwinnaar. Die magtelose van Paas- Vrydag is nou die een met alle mag in die hemel en op aarde. Ons moet hierdie teenoorgesteldes verstaan. Anders gaan ons God nooit verstaan. Ons weet dat Jesus die Seun van God is. Dat Hy en God die Vader een is. Johannes 10:30 het dit al gesê. Openbaring 5 sê dit ook. Hoofstuk 4 en 5 vorm een hemelse erediens. ‘n Erediens wat die verhouding tussen God en die Lam mooi uitlig. Onthou nou, drie weke terug het ek uitgewys, alles draai om God in die hemelse erediens. Daarom, in 4: 8-11 word God geprys. Kom ons sê, God word eers geprys, en dit lei tot die aanbidding van die Lam in 5: 8-12. En dan, in die hoogtepunt van die deel, word God en die Lam SAAM aanbid (Openb 5:13). Die Heilige Gees in Sy volheid is die heeltyd daar. God Drie-enig. Ons lees dat Jesus, die Christus, is …: • Die Leeu van Juda Openb 5:5 • Die Oorwinningslam wat geslag is Openb 5:6 • Middelaar wat boekrol by God neem Openb 5:7-8 • En Hy word as God aanbid Openb 5:12 Hy is dit nou reeds. Dit is Wie in ons lewens aan die werk is deur die Heilige Gees. In Matteus 28 lees ons, “Aan My is alle mag in die hemel en op aarde gegee … Ek is met julle tot die voleinding van die wêreld.” Alle mag. Dalk moet ons ophou leef asof Jesus vêr is, of onbetrokke, of magteloos toekyk na alles wat met ons gebeur. Sien raak Wie hierdie Jesus is wat gesê het Hy is by ons. Die wêreld het mos nog nie geeindig nie. Hy is steeds by ons. Die Here wat ek ken, is besig in ons en om ons. Hy woon in ons. As iemand afwesig is, dan is dit ons. Soos Johannes die hemelse erediens oopvou, verwag jy hierdie kragspel. Dis duidelik daar is net Een wat die boekrol sal kan oopmaak. Net Een. Niemand anders kan nie. Maar Wie? 2. Wie maak die boekrol oop? Wat is die mens? Definitief nie een van ons nie. Nie enige aardse koning of president of leier van watter aard nie. Wat mens reeds moet laat besef: Moenie jou hoop op politieke leiers plaas nie. Hulle is nie die toekoms nie. Openbaring 5:2: Toe het ek ’n sterk engel gesien wat met ’n harde stem uitroep: “Wie is waardig om die boek oop te maak deur die seëls daarvan te breek?” Openbaring 5:2 Daar was niemand wat die boek kon oopmaak nie. Niemand wat die seëls kon oopbreek nie. Nie in die hemel of op die aarde of onder die aarde nie. Die groot vraag! Wie is waardig … Wie kan die wereld ‘n toekoms gee? Wie is jou en my se toekoms? Hoekom is dit so belangrik? Hoekom is dit so ‘n intense oomblik vir Johannes dat hy in trane uitbars. Die sewe seëls dui op volmaaktheid, sewe is die volmaakte getal in Openbaring. En die inhoud is God se “wil”, sy raadsplan – vir sy volk, sy mense en vir die wêreld. Soos iemand geskryf het: Met ander woorde: die planne vir die koms van God se koninkryk. Maar daar is niemand wat waardig is om die seëls te breek nie. Wat nog van die boek oop te maak nie. Dit beteken: Ons sal nooit God se plan, Sy wil volledig ken nie. Geen hoop vir die wêreld. Geen redding. Geen genade. Net oordeel en vernietiging. Verstaan jy hoekom Johannes so baie gehuil het? Die mens se sondes het hom ingehaal. Die mens se los van God wil lewe, die weg wys van God se wil, slaan nou terug. Backfire. Geen vrye toegang tot God nie. Geen gebede wat gehoor en verhoor word nie. Geen hulp van Bo nie. Niks. Net nag. Die waarheid oor wat ons as mense regtig is, sondig en verlore met niks om God te bied, lê hier oop en bloot. En Johannes huil. Ek kry die idee, hy huil troosteloos. Want daar is geen hoop meer nie. Vers 5: 5 Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.” Openbaring 5:5 3. Wie haak die spreekwoordelike knoop deur? Vers 5 se “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda … “ Die Leeu wys op koninklike mag en krag. ‘n Leeu is sterk. Die Leeu van Juda is tog die Ou Testament omskrywing van die Christus. Maar nee, ons moet verder kyk. Vers 6 begin in die Grieks met ‘n belangrike merker wat keer op keer ‘n nuwe visioen inlui (kai eidan). Hier vat “die toe het ek” (kai eidan) ons aandag weg van die Leeu, weg van die toonbeeld van mag en krag, na ‘n ander prentjie toe en wat jy sien is nie die Leeu nie. Wie is waardig om die boek met die sewe seëls oop te maak? Kom ek stel dit so: Die antwoord HOOR jy: Die Leeu uit Juda. Maar as ons kyk, dan sien jy die antwoord, … is die Lam wat geslag is. God se Offerlam. Nie die Leeu nie, maar die Lam. Dis nogals ‘n verrassing. En dit wil iets sê. Dis so totaal anders as wat mense dink en anders as wat dinge hierond werk …. Nie die magtige een nie, nie die een met die groot krag nie … maar die Een van liefde, Hy wat nederig is soos ‘n Lam, Hy wat uit liefde Sy lewe as ‘n offer in ons plek gee. Interessant die klem in Openbaring 5 is nie op die opgestane Jesus nie. Maar op die gekruisigde Jesus. Hy is die Lam wat geslag is. Die groot vraag in hoofstuk 5 is: Wie is waardig … Wie kan die wereld ‘n toekoms gee. Wie is jou en my se toekoms. … Hoor jy dit? … Wie is jou en my toekoms? Die kerk van Jesus Christus, bestaan omdat die Lam van God geoffer is. Hierdie gemeente is die Lam s’n. Die voorbeeld wat ons het om na te leef, is die van die Lam. Offerbereid. Die gee van jouself ook vir ander wat dit nie verdien nie. Matteus 16 se selfverloëning in aksie. Die kerk, elke gelowige is nie mense wat magspeletjies kan speel nie. Gelowiges, die kerk, is nederige mense wat hulself verloën twv Christus. En dit is hoe ons oa nou op Jesus moet reageer. Nie net met aanbidding nie maar ook met oorgawe. Met selfverloëning soos Hy die voorbeeld gestel het. Ook intens bewus dat sonder Hom is daar nie ‘n toekoms vir ons nie. Die gekruisigde Lam van God is ons enigste hoop. Hier en nou. Ook vir die wederkoms en dus die lewe Hierna. Ek sê dit net weer: Nie die Leeu nie maar die Lam is waardig om die boekrol oop te maak. As ons dan verder lees kom ons agter dat die eerste lied sê groot dinge oor die Lam. Dat Hy alleen waardig is. Dat Hy mense loskoop uit elke stam en taal en nasie vir God. En hierdie mense wat Hy losgekoop het maak Hy tot ‘n koninkryk en priesters vir God. En hulle sal oor die aarde regeer. Dink maar aan die 24 ouderlinge met hul krone in hoofstuk 4. Hulle verteenwoordig ons, die gelowiges, daar. Die tweede lied, hoofstuk 5 :12, wys meer op die kruisdood van die Lam. ‘n Dominie in die Ring het in sy gebed gebid, hoe ons tussen die eina en die amen leef en hoe God ons daar vind en help en lei. Wel, kan ek sy woorde misbruik en sê, tussen die eina en die amen van ons lewens, vind ons die Leeu EN die Lam aan die werk. Die grootste oomblik sover in die mensdom se geskiedenis is die oorwinning van die Lam oor die Satan. Die kruis en opstanding van die Seun van God het die Satan verslaan. Armageddon is net die afronding op ‘n oorwinning wat reeds op Golgotha behaal is. Die Sewe horings simboliseer Christus se volgehoue mag en heerskappy. Die Sewe oë is die sewe Geeste van God. Dit sê God weet alles en is orals teenwoordig. Hy is deeglik bewus van elkeen en almal en alles. Ten laaste: Wie is waardig? As ons vashaak by vers 5 se Kyk, die Leeu van Juda” dan gaan ons uitmis op iets baie belangriks. Dan gaan ons ons eie prentjie maak van hoe Jesus is. En ons gaan die wêreld wil aanvat en bly praat van oorlog en oorwinnings. Asof dit die voetspore is wat Jesus sê ons in moet loop. Dan gaan ons soos die dissipels op ‘n stadium, vuur uit die hemel wil afbid op ander mense. Die gevaar is, dis net ons eie prentjies. Dink ook maar aan die gruwelike fout van die Middeleeue met hulle kruistogte en heilige missies. Genadiglik keer die Here vir Johannes om te gou te wil skryf. Hy laat hom eers sien dat die Lam is waardig. Nie die simbool van mag en krag nie, maar die Een wat Sy lewe opoffer vir ander mense, selfs al kies hulle om Sy vyand te wees. Dit is ons voorbeeld: Nie leeu wees nie, maar weerloos soos die Lam. Wetend ook dat Hy alleen ook ons toekoms is. Kom ons aanbid Hom.