Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Kodewoorde, geheime taal, wrede lewende wesens ens. Dis waaraan baie mense dink as hulle aan Openbaring dink. En wanneer jy Op 1-3 lees het jy nog nie werklik enigiets hiervan gelees nie. Daar word beweer dat George Frederick Handel in 1741 deur Openbaring 4 geinspireer is om seker die bekendste van alle oratoriums, nl Messias, te komponeer. 2. En dis so gereeld dat ek hoor hoe mense ligtelik en disrespekvol oor en van God praat. Die Man daarbo, die Oubaas, so asof Hy net nog ‘n naam op die vriendelys is. So asof Hy net nog ‘n follower op Bakkiesblad of TIKTOK is. Maar, Openbaring 4 vertel ‘n ander storie……. 3. Net voor ons aangaan moet ons deurentyd in gedagte hou dat Openbaring nie ‘n toekoms-voorspel boek is nie. Ons vind twee redes hiervoor in hfst 1. In vers 3 se die engel vir Johannes dat hy die woorde moet neerskryf “want die eindtyd is naby”. Nie 2000 jaar in die toekoms nie. Die eindtyd was in hulle tyd, 96nC, reeds naby en daarom moet hy hierdie dinge skryf sodat mense die dinge kan herken. Tweedens se die engel vir Johannes in v19 die volgende: “Skrywe nou op wat jy gesien het, wat nou daar is en wat hierna gaan gebeur.” 4. In hfst 4 begin ons die dinge sien wat baie mense aan dink as hulle dink aan Openbaring. En die bedoeling agter dit alles mag jou dalk verras. In vers 1-3 van Openbaring se Johannes die volgende: “1 Hierna het ek, Johannes, in die hemel 'n deur gesien wat oopgemaak is, en die stem, soos die geluid van 'n trompet, wat ek die eerste keer met my hoor praat het, het gesê: “Kom op hierheen, en Ek sal vir jou wys wat hierna moet gebeur. 2 Onmiddellik is ek deur die Gees meegevoer. Ek het gesien daar staan 'n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand. 3 Sy voorkoms was soos opaal en karneool. Om die troon was daar 'n reënboog met die glans van smarag.” 5. Die toneel verskuif nou van die aarde na die hemel toe. Die beeld van ‘n geopende deur in die Bybel het Altyd die beeld van “toegang tot God”. (3:20). En volgens Openbaring is die geopende hemel ‘n sekerheid waaraan gelowiges kan vashou al word die sinagoges as aanbiddingsplekke op aarde vir hulle gesluit en hulle daaruit verban. 6. God word gereeld in Openbaring beskryf as Iemand wat sit (vgl. vers 2). Dié benaming wil God se totale beheer beklemtoon. Hy is só in beheer dat Hy nie nodig het om ‘n vinger te verroer om te regeer nie. Alles gebeur rondom Hom terwyl Hy net kan sit. 7. Maar hier is iets baie belangriks wat ons nie moet mis nie. Daar is iets wat baie bekend is aan hierdie beeld van Johannes voor die troon van God. Een van die kenmerke van Johannes se Openbaring is dat dit deurspek is met aanhalings vanuit die OT. Sommige verklaarders meen dat daar ongeveer 500 verwysings na die OT is terwyl sommige verklaarders meen dat daar soveel as 1500 verwysings na die OT in Openbaring voorkom. En hierdie visioen van Johannes in hfst 4 is vol van sulke verwysings. 8. Eksodus, Esegiel en Jesaja verwys ook na die troonkamer van God en na die edelstene wat daarin gevind word. Die troon herinner ons dat God Almagtig is terwyl die edelstene vir ons wil se dat God onbeskryflik is. En wat elkeen van hierdie skrywers doen is om in mensewoorde vir ons as lesers “iets” te verduidelik van die heerlikheid van God op ‘n manier wat ons dalk kan verstaan. Ek bedoel, hoe verduidelik jy iets in woorde wat onbeskryflik is? 9. Maar ons moet in gedagte hou dat ons te doen het met apokaliptiese literatuur. En dit beteken dat al hierdie beelde en dinge wat Johannes beskryf, na iets verwys, dat dit iets verteenwoordig of iets beteken. En dan moet ons versigtig wees vir die fout wat so baie mense maak wanneer hulle Openbaring lees. En dit is dat ons nie net aan sekere beelde betekenisse gee en dan ander beelde letterlik opneem nie. Dis of alles letterlik of alles as apokaliptiese literatuur. 10. Johannes beskryf God se voorkoms as opaal, karneool en smarag. Dit is alles edelstene wat lig reflekteer. En dis om ons te herinner dat God gereeld as Lig beskryf word. Johannes verwys na die reenboog wat die lesers sou herinner het aan God se beloftes aan Noag. MAW, in hierdie kort beskrywing wil Johannes he ons moet weet dat God beide in beheer is van die eindgebeure en altyd sy beloftes hou. Gelowiges het ‘n Verbond met God en God sal sy kant van die Verbond nakom. 11. Maar daar is meer aan Johannes se beskrywing van hierdie troonkamer as om net beelde te gee wat die grootheid van God beskryf. In vers 4 se Johannes dat “4 Reg rondom die troon was daar vier en twintig ander trone, en op die trone het daar vier en twintig ouderlinge gesit. Hulle het wit klere aangehad, en op hulle koppe was daar goue krone.”. Nou, daar is verskille oor die samestelling van die 24 ouderlinge maar die oorgrote meerderheid kommentare stem ooreen dat hier na die 12 stamme van die OT en die 12 Apostels van die NT verwys word wat beteken dat dit die hele geloofsgemeenskap van God vanaf die skepping tot die wederkoms insluit. 12. Hoe dit ookal sy, almal stem saam dat dit wel die gelowiges van alle tye simboliseer. En die feit dat hulle in wit geklee is, ‘n kleur wat altyd dui op oorwinning in Openbaring, wys daarop dat hulle die oorwinning behaal het deur aan hulle geloof vas te hou te midde van die erge vervolging. Gelowiges het op hierdie stadium baie gely onder keiser Domitianus, hulle kon nie op die markplein koop of verkoop nie en hulle is gedwing om heidense afgode te aanbid. 13. Hierdie ouderlinge sit op trone wat deur God verleen is en hulle regeer saam met Hom. Maar hierdie ouderlinge het goue krone op hulle koppe gehad. Dit dui op dat hulle heerskappy en koningskap. Hulle regeer saam met God. 14. Maar behalwe vir die troon en die 24 ouderlinge, sien en beleef Johannes iets anders ook. Ons lees in verse 5-6 die volgende: “5Daar het weerligstrale, dreunings en donderslae van die troon af gekom. Vlak voor die troon het sewe fakkels helder gebrand. Dit is die sewe Geeste van God. 6Voor die troon was dit soos 'n spieëlgladde see, helder soos kristal. Naby, rondom die troon, was daar vier lewende wesens, vol oë van voor en van agter.” 15. So nou begin die beelde baie prominent en vreemde word. En dis die soort dinge waaraan mense dink as hulle aan Openbaring dink, reg? Ons lees van diere met sewe oë en koppe. Goed so verskriklik dat jy selfs sukkel om dit in te dink, wat nog van verstaan. En vir baie mense is hierdie die oomblik wat hulle Openbaring neersit en net se “Ek het geen idee wat dit beteken nie!”. En dis ook die rede waarom Openbaring verskeie kere in die geskiedenis byna uit die Kanon van die Bybel uitgehaal is. 16. Maar daar is betekenis aan. Elke beeld het ‘n betekenis en dit is – NB – deur die mense van daardie tyd goed verstaan. Soos wanneer jongmense se dat hulle na die twee goue boë toe gaan – dan weet die ander hulle gaan …….MACDONALDS TOE!!! Maar oor 2000 jaar van nou af gaan niemand dit verstaan nie. Dieselfde met Openbaring. So kom ons kyk na die betekenisse van dit wat Johannes vir ons vertel. 17. Wanneer Johannes praat van die sewe fakkels en die sewe geeste van God, praat hy van die HG. Die getal 7 in Openbaring beteken volheid of vervulling. En die HG is die Een wat kom soos vuur. So Johannes se dat die HG van God voor die troon van God gestaan het. En Hy staan VLAK voor die troon, om die eenheid met God die Vader te benadruk. Hy is nie rondom soos die ouderlinge nie, maar vlak by die troon. 18. Maar daar is nog meer. Johannes sien ook ‘n see so helder soos kristal. Maar hierdie see is spieelglad, maw dit is perfek kalm. Geen ritseling of golfie op hierdie see nie. En dit beteken iets groots. Want regdeur die Skrif verteenwoordig die see chaos. En die Jode het geglo dat die see die woonplek van die bose is. MAW ‘n kalm spieelgladde see se vir die lesers dat God bring orde waar daar chaos is. 19. En dan gaan Johannes voort om hierdie 4 wesens te beskryf wat in oë bedek is. En Johannes gaan uitbrei op hierdie vier wesens. En dit is NB dat ons dit sal onthou as ons die vgl verse lees. 20. Daarmee saam moet ons onthou dat 4 in apokaliptiese literatuur verteenwoordig die skepping of die skeppingsorde. MAW hierdie 4 goed verteenwoordig ALLE geskape wesens. So wat se Johannes deur hierdie beeld van die 4 wesens. Hy wil vir die lesers se dat God deur sy hele, volledige skepping, verheerlik word. En die oe verwys na wysheid. Die hele skepping is wys om God te aanbid en te verheerlik. En weereens word hierdie beelde getrek uit Esegiel en Jesaja. 21. Nou in verse 7-8 beskryf Johannes hierdie wesens soos volg: “7Die eerste lewende wese het soos 'n leeu gelyk en die tweede soos 'n bul; die derde het 'n gesig soos dié van 'n mens gehad en die vierde het gelyk soos 'n arend wat vlieg. 8Elkeen van die vier lewende wesens het ses vlerke gehad, wat aan die bokant en aan die onderkant vol oë was. Hulle het dag en nag sonder om te rus, gesê: “Heilig, heilig, Heilig, is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.” 22. Nou kyk na die dinge waaroor ons nou net gepraat het. In die eerste eeu is alle lewende wesens in vier kategoriee verdeel. Iets wat vir die eerste eeuse Jode algemene kennis sou wees. Wilde diere, huishoudelike diere, mense en voels. En kyk na die wesens wat Johannes opnoem. ‘n Leeu, ‘n Bul, ‘n mens en ‘n Arend. Elkeen van hierdie wesens is ingesluit. En dan vertel Johannes hoe elkeen van hulle 6 vlerke gehad het en vol oë was. En dit word alles in Jesaja en Esegiel ook beskryf. 23. Die wesens in Eseg 1 het elkeen 4 vlerke en vele gesigte gehad. En Esegiel praat ook van leeus en ‘n bul en ‘n mens en ‘n arend. In Jesaja 6 lees ons egter dat die wesens 6 vlerke gehad het. En die uitroep van Heilig, Heilig, Heilig, is die Here, die Almagtige is geneem uit Jesaja 6:3. Johannes beskryf dieselfde beelde wat hierdie profete beskryf het. ‘n Glorieryke oomblik waar die hele skepping God prys sonder ophou. 24. Johannes gaan aan om te se “9Elke keer wanneer die lewende wesens heerlikheid, eer en dank toebring aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, 10kniel die vier en twintig ouderlinge voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe. Hulle sit dan hulle krone voor die troon neer en sê: 11“Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep.” 25. Johannes se dat wanneer die hele skepping voor God buig is daar groot gevolge. Die 24 ouderlinge val op hulle kniee voor God neer en aanbid Hom en le dan hulle krone voor God neer. En wat dit beteken is dat net soos die skepping God aanbid en verheerlik, so doen hierdie 24 leiers ook. En as hulle hul krone voor God neerle se hulle daardeur dat die gesag wat hulle het van God af kom en deur God aan hulle gegee is en dat God superieur teenoor hulle is. 26. Dat hulle met mag en gesag sal neerbuig en God dien as die Opperwese. Hulle mag dalk krone dra, maar hulle buig diep en laag voor God. Hulle chat nie met God so asof hy ‘n vriend langs die braaivleisvuur is nie. Hulle wat die hele mensdom en alle gelowiges deur al die eeue heen verteenwoordig, buig diep en laag voor God, hulle gee alle mag wat hulle gehad het aan Hom oor, en hulle eerste reaksie is ‘n lied wat hulle sing: ““Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep.” 27. Hierdie herinner ons aan wat Paulus in Fil 2 gese het: “Elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Jesus die Here is”. Ons kan kies om dit nou te doen, of ons kan wag tot dit te laat is – MAAR DOEN GAAN ELKEEN DIT DOEN! En dis hoekom die woorde Here en God so belangrik is in hierdie lied. 28. Keiser Domitianus het na homself verwys as “Dominus et Daous”, wat beteken Here en God. Hy het daarop aangedring dat mense op die wyse na hom verwys. Maar Johannes se vir hierdie gelowiges dat Domitianus is beslis nie God nie, maar dat elke mens sedert die skepping voor die een ware God sal buig en Hom sal erken. 29. Sy grootheid word verder beklemtoon deurdat almal rondom Hom voortdurend voor Hom neerval in aanbidding (vgl. vers 8-11). Die ganse skepping besing sy heiligheid, sy skeppingsmag, en sy ewige heerskappy. Alles en almal in die troonsaal oorweldig die leser met die grootheid en heiligheid van God. Elke ding wat Johannes sien, elke aksie wat plaasvind, roep God se heerskappy en skeppingsmag uit. Sy grootheid skitter so geweldig dat ‘n mens dit amper nie kan beskryf nie 30. Vir ‘n kerk wat ly onder vervolging is hierdie bemoedigende woorde, dis woorde van hoop. Vir mense wat magteloos is wil Johannes herinner wie Jesus werklik is. En hy herinner ons dat ons nie ‘n God dien wat klein en swak is nie, ons dien die God van die hele skepping, die totale kosmos. Ons dien ‘n God wat sy beloftes hou. Ons dien ‘n God met wie ons ‘n verhouding het. 31. En dit maak nie saak hoe erg ons vervolging is nie, ons word opgeroep om saam met die hele skepping hierdie God te aanbid. Ons moet aan ander die voorbeeld wees van WIE ons dien. Ons het die hoop van alle hoop. Jesus!!! 32. In die hoofstukke wat hierna volg word vreesaanjaende beelde beskryf. Daar gaan meer profesiee wees. Maar hier aan die begin wil Johannes he ons moet die belangrikste boodskap hoor wat aanleiding gee tot die res van die boek. En dat ons hierdie boodskap in gedagte sal hou soos ons deur sy brief lees en wanneer ons lees van al hierdie verskriklike vreesaanjaende dinge wat gebeur. Jesus is HERE! 33. Die hele skepping weet dit, die hele skepping verkondig dit, en ons moet ook. Dat ons verby alle vervolging en swaarkry sal kyk en sal onthou dat ons ook nie vir ewig gaan lewe nie, dat ons ook iewers voor hierdie troon van God gaan staan. Die vraag is dan: Gaan ons Hom ontmoet as Vader, Skepper en die God van die heelal waarmee jy ‘n diep verhouding gehad het, Iemand wat jy ken, of gaan jy Hom ontmoet as Regter, om veroordeel te word, Iemand wat jy nooit geken het nie. Die keuse is joune en myne vandag!