Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. ‘n Klompie jare gelede het ek die voorreg gehad om in China sendingwerk te gaan doen. En een van die eerste dinge wat ek besef het is dat daardie mense sal enigiets wat loop, kruip, vlieg of swem met hulle rug na die hemel toe, eet. Hulle sal nooit van die honger doodgaan nie want hulle het geleer om alles waaraan jy kan dink of nie kan dink nie, te eet. En met die tafel van die Here wat voor ons gedek is vanoggend en waarby ons saam met God ‘n maaltyd gaan nuttig vanoggend, gaan ons kyk na maaltye in die Bybel. 2. Maaltye in die Skrif was gesog en baie belangrik. Want dit het hand aan hand gegaan met gasvryheid. Jesus self was geen vreemdeling wanneer dit gekom het by maaltye nie. Dink maar hoe baie die evangelies Jesus by huwelike en etes plaas. Jesus het vele van sy gelykenisse tydens huweliksonthale en etes vertel terwyl Hy dit gebruik het om ‘n punt in sy prediking te maak. Hy het gelykenisse vertel oor mense wat uitnodigings na huweliksonthale weier, mense wat nie reg aangetrek het vir onthale nie en wat by die verkeerde tafels gaan sit het. 3. So het Jesus baie kere die maaltyd self gebruik om sy dissipels te leer. As ons mooi daaroor dink was dit by ‘n ete soos hierdie vanoggend dat Jesus van sy kosbaarste woorde gespreek het die aand voor sy dood. 4. Maar ‘n ete was veel meer as net om jou lee maag te voed. Gemeenskap met mekaar was uiters belangrik. En hierdie gemeenskap met mekaar is gevier tydens etes wanneer die hele familie aan die einde van die dag bymekaar gekom het. Die hoofmaal aan die einde van die dag het ‘n groep mense ure geneem om voor te berei. Hout moes bymekaar gemaak word, water moes gehaal word, graan moes gemaal word, deeg geknie word, groente moes opgesny word vuur moes gestook word en eers dan kon die kos voorberei word. In sommige gevalle lees ons in die Skrif dat die kalf nog eers geslag en gaargemaak moes word vir besoekers. 5. En alhoewel Israel nie mooi gedekte tafels gehad het met silwer eetgerei nie, het hulle iets baie belangrikers gehad. Vir hulle was die ete, die maaltyd, baie meer as net ‘n ete. Vir hulle was dit ‘n plek van vertroue en kwesbaarheid. Om saam met mense om ‘n tafel aan te sit, of dan nou te le, het beteken dat julle in ‘n beskermende verhouding met mekaar was. Diegene saam met wie jy geeet het, het iets vertel van wie jy is en aan wie jy behoort. 6. Dit was die mense met wie jy gemeenskap gedeel het. ‘n Maaltyd met mense het ‘n onaantasbare verhouding met hierdie mense geimpliseer. Om ‘n gas te wees aan iemand se tafel met ete het beteken jy was onder daardie persoon se beskerming. Dink maar aan die voorval in Gen 19 waar Lot twee engele aangesien het vir vreemdeling en hulle in sy huis ingenooi het en aan tafel ‘n ete met hulle gedeel het. 7. Toe die dorp se mans daar opdaag het hulle gese dat Lot hierdie vreemdelinge moet laat uitkom sodat hulle met hulle gemeenskap kon he. Lot het sy twee dogters eerder vir die inwoners aangebied. As jy ‘n ete met iemand gedeel het was jy onder hulle beskerming. Selfs ten koste van hulle lewe. 8. En met dit in gedagte verstaan mens baie ander Bybelse verhale in beide die Ou en Nuwe Testament. Een van die mees aangrypendste etes in die Bybel mag miskien een wees wat ons dalk mislees. Dit het op ‘n bergtop plaasgevind, duisende jare gelede, net nadat Moses en Israel die Verbond met God gesluit het op die berg Sinai. 9. Nou voor ons daarna kyk moet ons net verstaan wat ‘n Verbond behels het in die Oosterse wereld. ‘n Verbond was baie meer as net ‘n besigheidsooreenkoms. Dit het ‘n baie diep verhouding geimpliseer tussen al die mense wat betrokke was by die Verbond. Dit het mense saamgebind, byna soos met ‘n huwelik. En wanneer die Verbond gesluit is, is dit gevier met ‘n seremoniele ete wat verteenwoordigend was van die vrede en aanvaarding wat tussen die partye geheers het. 10. Het u al ooit gewonder waar die tradisie vandaan kom om ‘n huwelik af te sluit met ‘n ete? Maar kom ons kyk na die ete op die berg Sinai. Die Verbond tussen God en die volk is sopas gesluit. Eksodus 24:9-11 stel dit so: “9 Moses, Aäron, Nadab, Abihu en sewentig leiers van Israel het toe die berg uitgeklim. 10Hulle het die God van Israel gesien: onder sy voete was 'n plaveisel soos saffiersteen, so blou soos die hemel self. 11God het geen hand teen die leiers van Israel gelig nie: hulle het Hom gesien en daarna het hulle geëet en gedrink.” 11. Die skrywers maak ‘n punt daarvan om te se dat die leiers God gesien het en selfs toe ook dat God nie sy hand teen hulle gelig het nie. Die Skrif is duidelik dat niemand God kan sien en bly leef nie. En die Skrif gee hierdie mense aan as dat hulle in die teenwoordigheid van God geeet en gedrink het. Soos ‘n tipiese Midde Oosterse gasheer beskerm God hulle teen enige leed en nooi Hy hulle om ‘n seremoniele ete te eet in Sy teenwoordigheid om die sluiting van die Verbond te vier. 12. Dieselfde gebeur met die instelling van die Paasfees ete in Egipte. Israel het die Farao toestemming gevra om buite Egipte te reis om God in die woestyn te aanbid. Toe die Farao dit verbied het hulle God aanbid in die middel van hulle vyande. Elke gesin het ‘n lam geslag en is deur die bloed van daardie lam beskerm teen die doodsengel terwyl die eersgeborenes van Egipte gesterf het. God se teenwoordigheid by hierdie Paasfeesete het beskerming gebring vir Israel teen die engel. 13. Die idee van gemeenskap met God tydens etes was ‘n integrale deel van die offerkultus in die OT. Sekere offers, soos die sondeoffer en die skuldoffer was geheel en al aan God gewy. Ander, soos die vredeoffers, was geheel anders. In so ‘n offer het die aanbidder en sy gesin saam met die priesters ‘n deel van die offer geeet. En wanneer hulle van die altaar geeet het was dit asof God self die kos met hulle gedeel het. Op hierdie manier het hulle bevestig dat hulle nou eet van die tafel van die Here af. 14. Daarom is hierdie offer ‘n “shelem” genoem, omrede hulle deur hierdie maaltyd met God die “shalom”(Vrede) tussen hulle en God gevier het. Hierdie maaltyd was vir Israel ‘n verbondsmaal – dat hulle by ‘n maaltyd aangesit het saam met God. God was nie afwesig nie, Hy was 100% teenwoordig. 15. Hierdie was, soos nagmaal vanoggend, ‘n gemeenskapsmaal gewees. Dit word saam met ander gelowiges gevier. Daarom het hierdie maaltyd nie net gedui op vrede tussen jou en God nie, maar ook op vrede en gemeenskap tussen gelowiges. Daarom dat Jesus vir sy volgelinge se dat indien jy iets teen ‘n medegelowige het, jy eers met hom of haar moet gaan regmaak voordat jy jou offer bring, voordat jy by die vredesmaal met Hom en ander gelowiges aansit. 16. ‘n Maaltyd in die Midde Ooste was die manier waarop ‘n Verbond van vrede tussen verskillende partye beseel is. Mense wat onder mekaar verskille gehad het, sou vrede maak en dit met so ‘n verbondsmaal beseel. Na so ‘n maaltyd mag niemand weer die verskille wat daartoe gelei het ophaal nie. Onthou die verhaal van Jakob met sy skelm skoonpa Laban? 17. Jakob het verlief geraak op Laban se dogter Ragel, maar op die troudag het Laban Ragel verruil vir Lea. Jakob het dit eers die volgende dag agtergekom. Jakob moes belowe om vir nog 7 jaar vir Laban te werk sodat hy Ragel kon kry. Jakob vlug toe met beide Vroue. 10 dae later het Laban hom ingehaal en nadat die twee vrede gemaak het en belowe het om mekaar nie leed aan te doen nie, het hulle ‘n vredesmaal gedeel. Gen 31:54 stel dit so: “Jakob het daar op die berg geoffer en toe het hy die mense by hom genooi om te eet.” 18. Deur saam te eet het Jakob en Laban verklaar dat hulle verhouding herstel is en dat daar vrede is. En nog meer belangrik, omrede die ete deel was van ‘n offer aan God, is dit verstaan dat God self teenwoordig was, deelgeneem het aan die ete en dat hierdie vrede gesluit is met God as getuie. Jakob en Laban het vrede met mekaar gehad en met God. 19. Die praktyk om saam te eet as teken van vergifnis en vrede met God en onder mekaar loop regdeur die Ou en Nuwe Testament. Jesus se verhaal van die verlore seun? Toe vergifnis plaasvind is die vetgemaakte kalf geslag en daar is geeet. 20. Maar gewoonlik is Jesus die gas by ‘n ete, maar in ons teks vanoggend kry ons Jesus waar Hy die gasheer is. Hy is besig om vis gaar te maak vir sy dissipels. En waaroor gaan die gesprek tydens die ete? Jesus se verhouding met Petrus. Petrus het Hom verloen, 3 maal, voor die kruisiging. Nou vra Jesus hom drie maal of hy Hom liefhet. En wanneer Petrus bevestigend antwoord, stel Jesus hom weer aan as dissipel. 21. En daarom, gee Jesus elkeen van ons ‘n uitnodiging vanuit die Skrif. “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.” God se uitnodiging is vanoggend, kom na sy tafel toe. Daar waar ons in sy teenwoordigheid net weer opnuut vrede met Hom sal kry. 22. Daarom Op 3:20! Dis net weer opnuut God se uitnodiging om saam met Hom by sy tafel aan te sit, om saam met Hom ‘n feesmaal te hou. ‘n Feesmaal waar God ons net weer uitnooi tot ‘n intieme verhouding met Hom wat gevier word met ‘n ete. Om ons net weer te verseker da tons onder Sy beskerming is, dat daar vrede tussen ons en Hom is. Maar nie net tussen ons en Hom nie, maar ook tussen ons as gelowiges onder mekaar. Alles te danke aan die bloed van sy Seun. Daarom dat Jesus by die instelling van die nagmaal vir sy dissipels opdrag gegee het om Hom te onthou, om dit tot sy nagedagtenis te doen. Want die brood en die wyn herinner ons net weer vanoggend dat ons ewige gemeenskap met Hom het. 23. Maar dit stop nie daar nie. Laastens herinner dit ons, net soos die maaltyd op die berg Sinai, dat daar eendag ‘n laaste maaltyd gaan wees. ‘n Maaltyd wat die einde van alle etes sal beteken. Op 19 praat van die bruilofsmaal van die Lam, waar ons vir Altyd in vrede saam met God en mekaar sal leef. Tot dan, kom ons sit aan by sy tafel hier vanoggend, wetend dat ons vrede met God het en dat ons veilig by Hom is. Dat dit Sy tafel is, Hy is die gasheer vanoggend, ons geniet gemeenskap met God self vanoggend en ons geniet sy beskerming. Alles tot Sy gedagtenis