Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
PSALM 65 In Nederlands, soos in goeie hedendaagse Afrikaans, word 'n belofte aan die Here 'n “gelofte” genoem. En ‘n belofte is iets wat jy aan mense maak. As ek beloftes sê waar ek geloftes moes sê, verduur my maar asb. Jy besef met die eerste lees, maar iets moes hier gebeur het. Of iemand, Dawid volgens die opskrif, het ‘n gelofte aan God gemaak en nou kom doen hy sy gelofte gestand. “Aan U, o God, kom ‘n lofsang toe in Sion.” Ek weet nie van al die beloftes/ geloftes wat jy dalk al aan God gemaak het, doop beloftes, lidmaat beloftes, trou beloftes, dit alles steeds beloftes. Of dalk is daar nog in die storms beloftes, waar jy gesmeek het, Here, as U my red, as U my ma, my kind of wie ookal gesond maak, dan sal ek ... Dalk net, is vanoggend, jou kans om hier saam by God, dit in die oë te kyk, die geloftes af te stof en saam met my te sê: Aan U, o God, kom ‘n lofsang toe in Deneysville / Vaalmarina. God verdien ons verering. Hy is meer as net ons held. Hy is die rede vir ons lewe. Hy verdien dat ons Hom loof en prys. God verdien ‘n groot groot dankie van ons kant af. Dit wat ons vandag is en het, is aan God te danke. Dat ons die jaar tot hiertoe oorleef het, het ons aan God te danke. Het jy nog redes nodig om God te prys? Of het jy ‘n moedskep oomblik nodig vandag? Het jy nodig om net so ‘n bietjie in die gemoed opgetel te word? Luister dan na hoe God in ons lewens besig is, besig ook in jou lewe al sien jy dit nie of ervaar dit dalk nie elke dag so nie: Vers 3: God luister na ons gebede. Vers 4: God vergewe ons sondes. Hy maak ons vry daarvan. Vers 5: God laat dit met ons goedgaan. Vers 6: In God se trou antwoord Hy ons met kragtige dade. Dit is hoekom ons hier is. In my hart weet ek dit is hoekom jy hier is. Jy wil God dankie sê vir Wie Hy is en dat Hy steeds geduld met ons is en met groot liefde met ons saam leef. Waar God is is ek en jy okay. Ons sal okay wees. Daar kan niks wees wat buite God se beheer om is nie. Daar is niks wat God nie kan omkeer in ‘n positief in nie. Kyk gerus na wat God alles doen volgens psalm 65: • Vers 7: U is met mag omgewe, U laat deur u krag die berge vas bly staan; • Vers 8: U laat die gedruis van die see, die geraas van die golwe, die rumoer van die nasies bedaar, • Vers 9: … laat U die mense juig. • Vers 10 : U sorg vir die land en gee oorvloed, U maak dit baie vrugbaar. Die groot riviere is vol water, U laat die koring welig staan. Alles is u werk! • Vers 11: U maak die ploegvore vol water en die kluite nat, U laat hulle sag word van die reëns, U laat alles welig groei. • Vers 12: U kroon die jaar met u goeie gawes. Waar U ook gaan, is daar oorvloed! Dit is persoonlik. God self doen dit. God self, besig om dinge te verander in Sy skepping. God self, betrokke by jou en my, Sy kinders. Nee, ek sê nie God gaan alles goed laat verloop nie. Daar is genoeg psalms wat van ellende vertel. En genoeg psalms wat vertel hoe God ellende omgekeer het in voorspoed. En uit ons eie lewens uit weet ons ook: Daar is riviere wat jy moet swem. Uitdagings wat jy moet deurgaan. Maar as kind van God gaan jy nie alleen daar deur nie. Soms as jy terugkyk dan besef jy, jy moes deur sekere goed deur sukkel om te kan groei en sterker word. Maar kan ek jou hierdie versekering gee: Niks gaan tussen jou en God se liefde vir jou kan inskuif nie. (Romeine 8: 31 ev.) 37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. In vers 12 is daar twee belangrike woorde / gedagtes: “Waar U ook gaan, is daar oorvloed.” Orals waar God gaan, waar God self is, word die lewe goed. Moenie nou eerste dink aan die dikte van jou beursie nie of nog meer vetlagie om jou bankrekening nie. Dink eerstens aan ‘n oorvloed genade en lewe. En as jy eers so kyk dan dring dit tot jou deur: selfs toe ek siek was, was God daar. Toe ek sonder werk gesit het, was God daar. Ons kon cope. Ons het dit gemaak. God het ons deurgehelp. En as jy dit raaksien, dan, … volg God. Volg Hom waar Hy ookal gaan want waar Hy is, is dit goed vir jou. Die tweede gedagte wat ek hier moet uitlig: “U kroon die jaar met U goeie gawes. (vers 12) “ Dit is ‘n onthou vers en ‘n raaksien vers en ‘n vorentoe kyk vers. As ek terug kyk oor my lewe, of net oor die jaar, dan sien ek God aan die werk in my en om my. Ek beleef dit nou steeds so. Sondag in ‘n konsistorie in Heilbron, toe hoor ek iets asof net vir my gesê daardie oomblik. Daar is ook dinge wat maar net nie in plek val nie, of so voel dit, maar ek kan opkyk, vorentoe kyk en weet God sal ook vorentoe daar wees. Want God is daar. Waar God is is daar oorvloed. Hy kroon die jaar met goeie gawes. Ons dink te materieel. Wat baat dit jou as jy al die geld in die wereld maak in ‘n bepaalde jaar maar God is kwaad vir jou? Wat word van jou en my as God sy genade weg vat? Of as God teen ons sou draai? Wat word van jou as jy nie vergewe word nie? Kyk dalk so: Gaan dit regtig met jou goed as jy beweeg van die een geveg na die ander? Gaan dit regtig okay met jou as die vrede en vreugde wat Christus gee jou bly ontwyk? As jy innerlik aan die baklei bly? Altyd opgewerk oor iets, ongelukkig oor alles. Of doodgewoon bekommerd oor goed wat dalk net nooit mag gebeur nie. So ongelukkig dat jy voel niks loop ooit reg nie. Of gaan dit met jou goed omdat jy God se vrede beleef en vanuit daardie vrede leef. As Sy vreugde in jou bly (Joh 15) en jy weet: Hy sorg vir jou, jy kom niks kort nie (Ps 23) God vul ons lewe met Sy goedheid. Met ‘n beter kwaliteit, of gehalte van lewe. Kom ons plaas vers 12 langs vers 5. “Dit gaan goed met die mens vir wie U uitkies en laat naderkom om in u tempel te bly. Laat ons die goeie dinge in u huis in oorvloed geniet.” Israel is maar taamlike dorre land. Water is belangrik. Daarom is die beelde so mooi: baie van die beelde draai om God wat waterstrome bring. Groot riviere laat vol loop. En as jy dieper kyk dan besef jy dat Dawid vir ons kom sê: Gaan terug na die bron. Vir alles in die lewe. Gaan na die bron. Na daar waar die lewende water vandaan vloei. Na God. Ons moet terug na die Bron. Na waar ons uit God uit leef en vir God leef. Waar ons oa Sy genade en seën ontvang. Gaan na die erediens. Gaan spandeer die alleentyd met Hom, gaan bou die verhouding met God wat Hy met jou wil hê, sodat jy op hoogte kan wees met waar Hy besig is en wat Hy vir jou droom. En die heeltyd, onthou jou beloftes. Hou hulle. Bring aan God die eer. Ek en my swaer het gaan fotos neem oor die naweek. Hy neem toe so ‘n verdwaalde botterblommetjie af wat ewe trots in die kalerige veld blom. Hy wys die foto vir sy vrou en sy sê dit is ‘n regte ou hartseer blommetjie. Ek het gedink, dit is ‘n blommetjie wat nog skaars bo die grond kon uitsukkel, en reeds God eer met ‘n blommetjie. So in my selwers het ek besluit, ek wil nie ‘n ou hartseer blommetjie wees nie, ek wil iemand wees wat ongeag God loof en prys en die mooi raaksien wat Hy getrou om ons uit pak. Self in ‘n klein botterblommetjie in ‘n kalerige veld. Ek kom vra jou om ook hierdie kopskuif te maak. Terug na God. En kyk die heeltyd uit vir die mooi wat Hy om jou uitpak. En loof Hom en prys Hom en betaal jou geloftes aan Hom.